Tweedoelige Hoenderrasse

© Chris Daly

Tweedoelige hoenderrasse is geskik vir beide eier en vleis produksie. Baie rasse val in hierdie kategorie naamlik Swart Australorps, New Hampshires en Wit Leghorns.

Australorp hoenders is in die 1900s in Australië deur die selektiewe teling van Swart Orpington voëls ontwikkel. Die Australiërs het hierdie Britse ras van ’n skou voël tot ’n populêre kommersiële hoenderras ontwikkel. Die eerste Swart Australorp hoender is in 1910 na Suid Afrika gebring. In Suid Afrika word al die kleur variëteite van die ras geteel.

Die Australorp is ’n goeie braaikuiken, met die hane wat 3.9 tot 4.7 kg en die henne wat 3.7 tot 4.5 kg weeg. Dit is ’n geharde hoender met ’n besonderse eierproduksie van ongeveer 250 vaalbruin eiers per jaar.

New Hampshire hoenders is van die Rhode Island Red ras ontwikkel en in 1935 as ’n onafhanklike ras in Amerika erken. Volgens die Suider-Afrikaanse Skoupluimvee-organisasie (Saspo) is die eerste voëls in 1947 na Suid Afrika gebring.

Die ras is gekies vir sy vinnige groei, vroeë ververing en volwassenheid asook die groot bruin eiers. ’n Volwasse haan weeg omtrent 3.5 kg en ’n hen 2.6 kg. Sommige telers beweer dat hierdie ras gehard is en dieselfde eierproduksie het as kommersiële lêhenne. Wit Leghorn hoenders is een van die oudste hoenderrasse bekend.

Die hoender kom oorspronklik van Italië en is Italians genoem tot in 1865 toe dit in Amerika hernoem is as Leghorns. Die Leghorn in Suid Afrika het sedert die 1940s ontwikkel uit invoere vanaf Engeland, Denemarke, Australië, Amerika en Duitsland. Hierdie voëls is mettertyd geteel om by die Suid-Afrikaanse omstandighede en vereistes aan te pas.

Wit Leghorns word tradisioneel gebruik vir eierproduksie en is steeds een van die hoekpilare van kommersiële lêhenne. ’n Volwasse haan weeg omtrent 3.5 kg en ’n hen 3 kg.

Translated by Ananda Schoeman