Op my inisiatief het sekere leiers van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke saam met ander ledekerke in 1980 mnr. PW Botha, wat destyds die Eerste Minister was, asook sy senior kabinetslede gaan spreek. Ons het hulle probeer laat verstaan dat onrus endemies aan Suid-Afrika sou raak indien die oorsaak nie verwyder word nie – hierdie oorsaak was apartheid.
Ons het verklaar dat ons besef dat beleide nodig is en dat ons niks wil voorstel wat tot gevolg sal hê dat hulle die steun van hulle kiesers sou verloor nie. Ons het vier items voorgestel wat indien dit nagekom sou word, ’n dramatiese demonstrasie sou wees van die regering se voorneme om werklike politieke verandering teweeg te bring. Dit sou uiteindelik tot ’n politieke magsverdeling lei. Onthou dit was in 1980.
Ons het die volgende voorgestel: Verklaar ’n verbintenis tot ’n gemeenskaplike burgerskap vir alle Suid-Afrikaners in ’n onverdeelde Suid-Afrika; skaf die paswette af (selfs ’n geleidelike afskaffing om chaos te vermy), skaf aanhouding sonder verhoor en arbitrêre verbod af; staak alle gedwonge bevolkings verwydering onmiddellik en vestig ’n eenvormige onderwysstelsel.
Hierdie was nie wilde radikale eise nie en as die regering dit geïmplementeer het sou ons baie angs, bloedvergieting, verlies aan eiendom, ’n toename in bitterheid, haat en woede gespaar word. Ons is deur die swart gemeenskap gekritiseer omdat ons na die regering toe gegaan het. Dit was soortgelyk aan die omstandighede wat ek in my 1976 brief aan mnr.
Vorster genoem het. Maar weet jy wat het gebeur? Hierdie eise is geïgnoreer. Ten spyte hiervan het ek ’n jaar later weer probeer om die staatspresident te sien met die hoop dat hy sou optree soos net hy kon. Om met hom te praat soos een Suid-Afrikaner met ’n ander, soos een oupa met ’n ander, soos een Christen met ’n ander.
Hy sou die een wit Suid-Afrikaner wees waarvoor die swart bevolking ’n standbeeld sou oprig. Die man wat in die geskiedenisboeke opgeteken sou staan as die een wat apartheid tot niet verklaar het en ’n nuwe, billike, nie-rassige en werklik demokratiese Suid-Afrika tot stand bring.
Hy het my weggewys. Tussen hakkies moet ek byvoeg dat ek gesê het dat hy vir sy moed, om die witmense te vertel dat daar geen manier was waarop hulle die toekoms van hierdie land vir ewig kon bepaal nie, geprys moet word. Ongelukkig het hy nie ver genoeg gegaan nie en beide die swart bevolking sowel as die sogenaamde regses was ontevrede. Om ’n Engelse uitdrukking om te draai, ons sien die hartseer spektakel van ’n man wat nie die oortuiging van sy moed gehad het nie.
Ek was egter reg om in Februarie 1986 na die Alexandra Township te gaan om die gespanne situasie te verlig. Ek sou ook saam met ’n afvaardiging Kaapstad toe gaan om hierdie situasie asook die situasie in ons land met die regering te bespreek. Die regering het in 1984 ten spyte van ons versoeke vir onderhandelings ’n konstitusie wat die klimaks was van die beleide oor die uitsluiting van die swart populasie uitgereik. Ons was al sedert 1910 daaraan onderworpe.
Drie en sewentig persent van die populasie is uitgesluit van enige deelname aan hierdie massiewe klug wat die internasionale gemeenskap moes oortuig dat apartheid hervorm is. Apartheid is onhervormbaar. Dit moet vernietig word voordat dit ons land vernietig. Hierdie grondwet se doel was om die wit minderheidstem met die gekoöpteerde hulp van die sogenaamde Kleurlinge en Indiërs, medewerkers in hul eie en ons onderdrukking en uitbuiting, te versterk.
Translated by Ananda Schoeman