Natal Mahogany
Rooiessenhout

© Shem Compion

Naam

Rooiessenhout [Trichilla emetica]

Latynse naam

Trichilla emetica

Beskrywing

Hierdie groot, immergroen boom het ‘n wydspreidende kroon wat ‘n digte skaduwee maak. Die aantreklike blare is blink en donkergroen. Die blomme ruik soet, is ‘n romerige groen kleur en word gedra in digte trosse aan takeindpunte.
Die rooiessenhout kan ‘n gematigde winterdroogte en ligte ryp weerstaan. Die bas is glad en donkerbruin tot grys. Dis ‘n boom wat tot 20 m hoog kan word. Die nektar lok bye en voëls. Die ronde vrugte bars oop wanneer hulle ryp is en stel rooi en swart sade vry wat deur voëls geëet word. Soms sal ‘n boom slegs manlike blomme dra en dan nooit vrugte dra nie.

Gebruike

Ape vreet die blomme en bobbejane en wildsbokke eet die vrugte. Plaaslike mense week die sade in water, wat ‘n melkerige vloeistof tot gevolg het wat hulle soms saam met spinasie eet. Die sade word ook deur sekere voëlspesies geëet. Olie afkomstig uit die sade word in skoonheidsmiddels gebruik en help ook om gebreekte bene te heel.
Bas wat verpoeier is word gebruik as ‘n braakmiddel en purgeermiddel en kan ook gebruik word om ‘n pienkerige kleursel te maak. Die blomme verskyn tussen Augustus en November en vrugte word gedra tussen Desember en April. Die hout word gebruik vir houtsneewerk, musiekinstrumente, huishoudelike toerusting, meubels, kolwe en kanoes.

Habitat

Rooiessenhoutbome word gevind in oop bosveld en langs riviere en spruite, vanaf Soedan tot Kwazulu-Natal.

Waar hulle gevind word

Hulle kom voor in verskeie streke soos die Noordelike provinsie en Kwazulu-Natal in Suid-Afrika.

Veldaantekeninge

Hoewel die sade van die rooiessenhoutboom eetbaar is, is dit belangrik om te weet dat die buitenste skil van die sade giftig is.