Metodes om Grondvog te Meet

©Louise Brodie
Dis belangrik om te weet wat die grondvogtoestand is sodat die kweker die plant op die regte tyd kan besproei om te verseker dat die vereiste hoeveelheid vog in die grond is vir die plant se wortels. Om die grondvog te meet en seker te maak dat die gewasse nie onnodige stres verduur en die produsent verlies aan produksie lei weens ‘n tekort aan beskikbare water in die grond vir volhoubare groei van plante nie, word verskillende metodes en instrumente gebruik om die grond te monitor en die wat die algemeenste gebruik word vir die skedulering van besproeiing, is die volgende:
Die ‘Neutron Probe Meter’
Gipsblok
Tensiometer of irrometer
Gevoel-en voorkomsmetode
‘Time Domain Reflectometry (TDR) Probe’

Die ‘Neutron Probe Meter’

Die ‘Neutron Probe Meter’ meet grondvog deur neutrone te versprei in die omringede grond. Die instrument bestaan uit ‘n pen aan die voorkant van ‘n kabel wat gekoppel is aan die meterboks. Die pen bevat ‘n vinnige neutronbron, wat ‘n mengsel van radium en berillium of Americanum en berillium mag wees.
Aluminium toegangsbuise van 500 mm tot 1 000 mm lank en 32 mm in deursnee met toe basisse word in die land geplaas waar die lesings geneem moet word. Vir vlakwortelgewasse en jaargewasse, sal korter buise gebruik word as vir gewasse met diep wortels of meerjarige, langtermyngewasse.
Die neutronpen word in die toegangsbuis laat sak tot by die verlangde diepte en vinnige neutrone word vrygestel. Die neutrone versprei dan in die grond. As hierdie neutrone die waterstofatoom van water teëkom, word die spoed van die neutrone verlaag en die ‘rate meter’ tel die aantal stadiger neutrone. Die aantal stadiger neutrone is proporsioneel tot die watermolekules in die omringende grond. Deur hierdie inligting in die sagteware in te voer, word die voginhoud van die grond duidelik uit ‘n kalibrasiekurwe wat die tellings van die stadiger neutrone aandui.
Voordele
Metings is vinnig en aanhoudend. Die gebruik van die ‘Neutron Probe’ veroorsaak nie dat die grond versteur word nie en ‘n groter area (200 mm tot 400 mm rondom die penbuise) as met ander metodes kan gemeet word.
Nadele
Die gebruik van ‘n ‘Neutron Probe’ is duur, gebruik ‘n radio-aktiewe bron en vereis gereelde instandhouding deur gespesialiseerde personeel. ‘n Akkurate lesing van die grondvog van vlak grond is problematies omdat die vinnige neutrone deur ander waterstofatome in organiese materiaal, sowel as atome van spoorelemente normaalweg aanwesig in die boonste 200 mm grond, vertraag kan word. Dit veroorsaak die oorskatting van grondvog aanwesig.

Gips, Klei of Gebrande Gipsblokke

Hierdie reghoekige weerstandsblokke is ongeveer 550 mm lank, 375 mm breed en 20 mm dik. Gips-, klei- of gebrande gipsblokke word gebruik vir die meet van grondvog deur die blokke te plaas op die presiese plek waar die grondvog gemeet en gemonitor moet word. ‘n Paar elektrodes in 20 mm uitmekaar in die blokke ingebou.
Hierdie metode werk op die geleiding van elektrisiteit. As ‘n elektriese stroom deur die twee elektrodes gestuur word, is die weerstand teen die vloei van die elektriese stroom proporsioneel aan die voginhoud van die blok. As die blok nat is, is die geleiding hoog en die weerstand is daarom laag. Oor die algemeen lees die elektrodes ongeveer 400 tot 600 ohms weerstand by veldkapasiteit en ongeveer 50 000 by verlep-punt, wanneer ‘n plant nie meer die verlangde water uit die grond kan onttrek om homself in stand te hou nie. Die lesings word gedoen met ‘n ‘Wheatstone Bridge Bouycos waterbridge’ me droeë selle.
Plaas die gipsblok in onversteurde grond.
Nadele
Gipsblokke is nie baie betroubaar in nat grond nie.

Tensiometer/Irrometer

©Louise Brodie
‘n Tensiometer is ‘n instrument wat die spanning meet waarteen water in die grond gehou word. Dit bestaan uit, aan die punt, ‘n 8 cm keramiek of kleihouer wat vasgeheg is aan ‘n beskermende metaal- of glasbuis met ‘n vakuummeter aan die bokant. Die stelsel is gevul met water vanuit ‘n opening aan die bokant van die buis en sal die poreuse kleipunt versadig. Dit word dan toegekurk deur die vakuummeter as dit in die grond gesit word.
Installeer die tensiometer deur ‘n gat te boor wat net wyd genoeg is sodat die buis in die aktiewe wortelarea van die gewas geplaas kan word. Daar moet geen lugleegtes rondom die punt of die buis wees nie. Dit moet knus pas. Vog sal uit die houer getrek word soos die grond rondom droog word. Dit skep ‘n vakuum in die buis wat gemeet word deur die meter. Sodra die verlangde spanning bereik word, moet die grond natgemaak word. Die vakuummeter dui die spanningswaardes aan tot by een atmosfeer, maar lees slegs tot by 0.8 atmosfeer.
Voordele
‘n Tensiometer is eenvoudig en maklik om te installeer sodat grondvog in situ gelees kan word. Dis nuttig vir die skedulering van die besproeiing van gewasse wat dikwels natgemaak moet word teen lae spanning.
Nadele
Sensitiwiteit van ‘n tensiometer is slegs tot by 0.85 atmosfere, terwyl beskikbare grondvog tot by een atmosfeer kan wees. ‘n Tensiometer is ook meer akkuraat in sanderige gronde as in swaar kleigrond.

Voel en Voorkomsmetode

Indien geen van die bogenoemde metodes beskikbaar is nie, kan hierdie praktiese skatting van grondvog gebruik word as ‘n laaste uitweg. Grond van monsters wat van die verlangde dieptes geneem is, word met die hand gedruk en hoe dit voel en hoe dit lyk word in ag geneem. Akkurate, werklike grondvogmeting is egter nie moontlik met hierdie metode nie.

‘Time Domain Reflectometry (TDR) Probes’

©Louise Brodie
‘TDR probes’ is ‘n nuwe metode wat gebruik word in die skedulering van besproeiing. Die metode meet hoe lank dit neem vir ‘n elektriese impuls om teen ‘n vlekvryestaal staaf af te beweeg wat in die grond gesteek is.
‘TDR probes’ word normaalweg in kweekhuise gebruik en is uiters akkuraat. Dit is egter ‘n duur stelsel om op groot skaal te gebruik.

Translated by Elna Van Rhyn