’n Hoogtepunt van die park is die samevloei van die Limpopo - en Shasherivier, die plek waar drie lande ontmoet. Om hierdie asemrowende uitsig in te neem, het die park ’n reeks uitgestrekte houtplatvorms heel bo op die platorand wat uitkyk oor die vloedvlaktes.
Wanneer jy op die lip van die rand staan, lê Botswana aan jou linkerkant en Zimbabwe aan jou regterkant. ’n Klein wit baken op ’n eiland in die middel van die konfluensie wys vir jou die presiese punt waar die drie lande ontmoet. Hoog bo die toneel, vanaf jou uitkykpunt op die houtplatvorms, smelt die arbitrêre geo-politiese grense saam in niks in nie.
Hulle is maar net lyne wat slegs in kaarte en mense se koppe bestaan. In kontras ontmoet hier twee dramatiese riviere by hierdie punt. Van die ooste na die weste sny die ‘great grey-green greasy’ Limpopo – soos wat Rudyard Kipling dit met alliterasie beskryf – die vlaktes.
Vanuit die noorde kom die wye, sanderige vloer van die Shasherivier, wat slegs vloei wanneer dit vloed. Een dag sal die heinings afgebreek word en die wild sal weer hul natuurlike migreerpatrone deur die belangrike waterbaan loop.
Die plek waar die twee rivier saamvloei is ook ’n piekniekbestemming vir dagbesoekers. ’n Aantal tafels en stoele is onder aanloklike grasdakke gebou en daar is ’n klein winkel wat gasbraaie verhuur. Die winkel sal ook basiese items, soos koeldrank en peuselhappies verkoop, maar dit was nie oop toe ek daar was nie.
Daar is vier platvorms (Sonsopkoms, Hoof, Konfluensie en Sonsondergang) en elkeen bied uitstekende uitsigte oor die samevloeiing.
Die atmosfeer is rustig en as jy stil is, kan jy die ligtelike klok-klok van koeiklokke oor die grens van Zimbabwe hoor. Aan die anderkant van die piekniekarea is nóg ’n loopplank wat na die puntplatvorm toe loop. Hierdie uitkykpunt het ’n uitsig oor die park: ’n rooi, rowwe landskap gevul met vallei en bome. Nie so dramaties soos die Konfluensie-uitkykpunt nie, maar dit is steeds die kort stap werd.
Translated by Nina Joubert