KwaZulu-Natal Provinsiale Wapen

Die KwaZulu-Natal Provinsie het tot 2004 gewag voordat hulle ’n nuwe wapen bekend gestel het. Gedurende die 10 jaar tydperk na die verkiesing het KwaZulu-Natal die wapens van beide Natal en KwaZulu langs mekaar gebruik. Die Zoeloe leuse, Masisukume Sakhe, wat op die groen basis geskryf is beteken “Kom ons staan op en bou”. 

Die leuse onder op die wapen word in Engels en Zoeloe geskryf, die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat ’n blasoen in enige ander taal as Engels en Afrikaans getoon word. Vanaf die basis is dit ’n Nguni skild met ’n kraanvoëlblom (Strelitzia reginae) daarop uitgebeeld.

Die groen hoekige band op die skild verteenwoordig die Drakensberge waar die provinsie aan Lesotho en die Vrystaat grens. Die groen verteenwoordig die algemene groen landskap van KwaZulu-Natal. Agter die skild kruis ’n assegaai en knopkierie mekaar. Dit is beide tradisionele simbole van koninklike gesag.

Aan die een kant is die skilddraer in leeu (Panthera leo) wat deel was van die ou KwaZulu-Natal wapen en op die Zoeloe koning se outoriteit dui. Aan die ander kant is die skilddraer ’n swartwildebees (Connochaetes gnu).

Dit is vanaf 1870 simbolies van die kolonie en die Natal Provinsie en is al sedert 1907 op die provinsiale wapen aangebring. In die nuwe wapen word die swartwildebees as klimmend en nie soos vroeër as hardlopend aangedui nie. Bo-op die skild is die helmteken wat soos ’n byekorfhut lyk.

Dit was die tradisionele struktuur wat die Nguni vir huise gebruik het. Die strukture was ook tipies van die suidelike Nguni in die eertydse Ciskei en Transkei. ’n Tradisionele kraal het oor die algemeen uit baie hutte bestaan, een vir die manlike hoof van die huis en een elk vir sy vrouens en kinders. Hierdie tipe boustyl word deesdae nie meer gebruik nie, maar dit kan nog in historiese dorpe naby Shakaskraal gesien word.

Skild Embleem – Nguni Skild

©Roger de la Harpe

Die keuse van die skild is baie geskik aangesien dit die tradisies van die Zoeloe krygers en hul voorgangers weerspieël. Die skildvorm is die eerste keer deur die abeNguni gebruik as ’n twee meter lange skild waaragter die kryger weggekruip het as lang spiese na hom toe gegooi is. Shaka het hierdie soort skild saam met die lang spies afgeskaf.

Dit is deur ’n korter skild van ongeveer een meter en ’n assegaai (of kort steekspies), wat in handgevegte gebruik word, vervang. Deesdae word nog korter skilde in die tradisionele stok gevegte tussen jong Nguni-mans gebruik. Die tradisionele skilde word van koeivel gemaak en met stokke versterk.

As die skild nie vir seremonies of gevegte gebruik word nie kan die stokke verwyder word sodat dit makliker hanteer kan word. Die stokke word met kontrasterende kleure rieme vasgebind.

Blom Embleem – Kraanvoëlblom (Strelitzia Reginae)

Die kraanvoëlblom (Strelitzia reginae) was die amptelike blom embleem van die Natal Provinsie. Dit is ’n inheemse plant wat in Zoeloeland se valleie naby die kus voorkom.

Dit kom egter nie in die ou Natalse-kolonie suid van die Tugelarivier voor nie, maar wel in die Transkei en Oos-Kaap en wydverspreid in tuine regoor die provinsie. Vreemd genoeg is dit ook die amptelike blom van Los Angeles in Kalifornië. Dit groei wild daar en die saad kom waarskynlik uit die omringende tuine.

Translated by Ananda Schoeman