Kompos bevat ’n groot hoeveelheid voedingstowwe en grond mikrobes en vorm ’n belangrike deel van grondbemesting in organiese landbou sisteme. Dit bevat baie organiese materiaal wat hoog is in voedingswaarde. Hierdie organiese materiaal help om die grond vir ’n langer tydperk klam te hou. As die produsent nie genoeg kompos het nie, is daar ’n manier om dit te "rek" - kompos kan as ’n deklaag gebruik word of net in die grond reg rondom die plant ingewerk word en nie in die hele area nie.
Dieremis word dikwels in organiese landbou gebruik omdat dit ryk is aan organiese materiaal en voedingstowwe. Rou of onbehandelde mis kan plante verbrand en mag nie vir gewasse, soos groente en vrugte wat vir menslike gebruik geskik is, gebruik word nie. Dit kan wel vir weivelde, essensiële olie-gewasse en sierplante gebruik word.
Die rede hiervoor is dat daar skadelike bakterieë in die mis is wat menslike siektes kan veroorsaak. Enige dieremis wat gebruik word moet eers behoorlik gekomposteer word. Mis wat vir ’n rukkie in ’n komposhoop gelos word en toegelaat word om te ontbind kan gebruik word vir groente en vrugte produksie. Wanneer dieremis in kompos gebruik word moet voldoende hoeveelhede koolstofryke plantmateriaal bygevoeg word - soos saagsels, strooi, blare, wingerdsnoeisels.
Gewoonlik is ’n koolstof: stikstof verhouding van 30:1 optimaal. Dit verseker die doeltreffende opbreek van die bestanddele om ’n gebalanseerde kompos te verkry. Onder aërobiese toestande (suurstof is teenwoordig) verlaag die voorkoms van patogene vinniger as onder anaërobiese toestande (bv. wanneer kompos nie gemeng word nie). As komposhope gereeld omgekeer word en temperature vir minstens twee weke ’n minimum van 55°C bereik, kan patogeenvlakke tot onder die opsporinglimiet daal.
’n Nadeel van die gereelde omkeer en hoë temperature is die verlies van stikstof deur die ‘verdamping’ van ammoniak. Rou mis kan nie deur plante opgeneem word voordat dit nie deur die grond mikrobes tot humus omgeskakel is nie. Hierdie proses verbind sekere voedingstowwe en kan ’n tydelike vermindering in beskikbare voedingstowwe hê. Rou mis kan tot ’n toename in plae soos slakke en oorkruipers lei. Die produsent moet die beheerliggaam laat weet wanneer dieremis gebruik word. Die tipe dieremis moet ook aangeteken word.
Dieselfde geld vir beenmeel, horingmeel, bloedmeel, ens. Geen riool word in enige landbou praktyke toegelaat nie. Diere afval van kommersiële voerkrale en hoenderplase word onder geen omstandighede toegelaat nie. Hierdie is intensiewe boerderysisteme, wat gebruik maak van antibiotika en hormone.
Die diere mag ook nie vryelik rondbeweeg nie en om hierdie redes word die mis uit voerkrale nie toegelaat in organiese landbou nie.
Translated by Ananda Schoeman