Inheemse Bokboerdery in Suid-Afrika
Bokke was van die eerste diere wat makgemaak is deur die mens vir die produksie van vleis, melk, velle en vesel. Inheemse bokke het gedurende die laaste gedeelte van die Steentydperk in Suid-Afrika aangekom saam met migrerende stamme en word aangetref in die areas waar die verskillende etniese groepe hulle gevestig het. Die algemene voorkoms van hierdie bokke ondersteun teorieë dat hulle afkomstig is uit verskillende ekosisteme.
Hierdie verskillende bokrasse sluit in:
Nguni Tipe Bokke (Mbuzi) - veelkeleurig met semi-hangende ore
Oos-Kaapse Xhosabokke - veelkleurig en hangore
Noord-Kaapse bokke - hangore en gespikkeld
Kunene Tipe bokke (Kaokoland) - veelkleurig met hangore
Die inheemse bok staan ook bekend as die ‘Inheemse veldbok’ (IVB) en is amptelik as ras in 2006 geregistreer toe ‘n telersgenootskap gestig is.
Die inheemse bok word natuurlik geteel vir funksionele doeltreffendheid. Hulle is wildsbok-agtig met lang bene sodat hulle met gemak kan beweeg en ver distansies kan loop om te gaan wei op ‘n verskeidenheid plante.
Hulle vreet ‘n groot verskeidenheid plante, struike (ongv.60%) en grassoorte (ongv.40%) en het die potensiaal om te selekteer vir ‘n hoër kwaliteit dieet oor ‘n kort periode en kan voedingswaarde verkry uit gemiddelde kwaliteit weiveld. Hulle het ‘n relatiewe dik en oor die algemeen goed gepigmenteerde vel, ook met goeie pigment op die kwesbare gedeeltes (kop, ore, snoet, bors, rug en onderbene) om hulle teen die son te beskerm.
Voordele van Inheemse Bokke
Navorsing het bewys dat inheemse bokke beter bestand is teen bosluis-gedraagde siektes (soos hartwater), meer parasiet verdraagsaam is en oor die algemeen meer droogte en siektebestand is as vleis- of melkbokke. Dit maak hulle instandhoudingskostes laer. Die meeste inheemse bokke produseer kasjmier in die winter wat weer in die somer verhaar word.
Inheemse bokke is baie vrugbaar van ‘n jong ouderdom af, het ‘n lang teelseisoen en produseer lammers regdeur die jaar. Hulle kan gemelk word tot op 274 dae en lewer 1.46kg melk per dag. Die melk bevat 5.2% melkvet (room), 3.8% proteïene en 4.8% laktose.
Inheemse bokke produseer baie hoër vlakke melkvet en proteïene as Saanen bokke, maar hul melkproduksie is egter baie laag. Die laktasieperiodes is kort – beswaarlik genoeg vir hul lammers. Dit is in kontras met die Saanen en Saanen-inheemse kruisrasse wat volgehoue groot hoeveelhede melk oor ‘n 9 tot 10 maande laktasieperiode lewer.
Versigtige seleksie en teling uit die inheemse bokke het die drie hoofveisbokrasse in Suid-Afrika tot gevolg gehad: Boerbok, Kalahari Red en Savanna.
Basiese Statistiek vir Inheemse Bokke
Inheemse bokke is gemiddeld vyf maande (ongeveer 150 dae) dragtig, en sal ‘n eenling of ‘n tweeling lam wat ongeveer 2.5kg weeg. Die lammers sal gespeen word op 12-15kg. Dit is so 3 tot 3.5 maande vir ramlammers en 3.5 tot 4 maande vir ooilammers, hoewel sommige Oos-Kaapse boere hul kapaters (gekastreerde ramlammers) eers op 5 maande speen.
‘n Volgroeide ooilam sal 35-40 kg weeg. Sy is reg om te paar op 9 maande. ‘n Volgroeide ramlam sal 45 – 50kg weeg.
Die optimale aantal ramme tot ooie is 1 ram vir elke 20 ooie. Die hoof lamseisoen is April tot Junie of September tot Desember. ‘n Inheemse bok het ‘n lewensduur van 10-12 jaar.
Inheemse Bokprodukte
Bokvleis (chevon en cabrito) is sappig met ‘n goeie geur en het lae cholesterolvlakke.
Teeldiere uit hartwatergebiede (waar hierdie siekte voorkom) is bestand teen die siekte. Hartwater kom voor in die meeste van sub-Sahara Afrika, maar die siekte kom nie voor in die droë Kalahariwoestyn en die droë kusgebiede van Namibië en Suid-Afrika nie.
Velle – produseer ‘n verskeidenheid kleurpatrone vir die maak van leerartikels met hare aan.
Kwaliteit leer – onbeskadig deur bosluisbyte.
Melk – gebruik in baie huishoudings en kan geprosesseer word in ander suiwelprodukte soos kaas.
Kasjmier – Dis ‘n fyn haar wat tydens die winter geproduseer word. Kasjmierproduksie is ideaal vir bestaansboerderye waar boere noue kontak met hul diere het en presies weet wanneer optimale verharing plaasvind en wanneer om te kam.
Translated by Elna Van Rhyn