Hoe om ’n Konyn te Hanteer

©Judy Stuart
Wanneer u die konyntelery nader, praat met die konyne sodat hulle weet dat u op pad is en dat u nie ’n roofdier is nie. Hanteer die konyne op ’n ferm tog sagkens manier. Om ’n volwasse konyn op te tel, neem die vel agter die ore en oor die skouers ferm in een hand en sit die ander hand onder die maag. Dit gee die konyn ’n gevoel van sekuriteit en die konyn sal u nie krap nie. Moet nooit ’n konyn by die ore optel nie. Dit veroorsaak uiterste pyn.
Om ’n konyn van een plek na ’n ander te dra, hou die konyn oor u lyf met die kop onder u elmboog. Wanneer ’n konyn uit ’n hok met ’n klein deur gehaal word, hou die konyn by die nekvel en onder die maag (asof u die konyn gaan optel) en haal die konyn agteruit uit die hok, stert eerste.
Om die onderkant van die konyn te ondersoek, hou die nekvel, kop en ore in een hand vas, sit die ander hand onder die maag en bring die konyn tot teenaan u liggaam. Draai dan saggies die konyn op sy rug terwyl u deurgaans die konyn ondersteun. Doen dit stadig tog ferm en die konyn sal op hulle rug lê sonder stres.
Om babakonyne wat rondhardloop te vang, plaas u hand oor die rug en lig hulle saggies. Om babakonyne in ’n neskas te hanteer, bedek die baba met u hand en tel hulle op. Hanteer klein babas so min as moontlik, maar ondersoek elke neskas daagliks en verwyder nat beddegoed of dooie babas.
Konyne wat gereeld hanteer word leer om die hanteerder te vertroue en sal nie krap of byt wanneer hulle hanteer word nie. Elke konyn moet ten minste een keer ’n maand ondersoek word vir oorswering en om hulle naels te sny indien nodig.
Om ’n konyn se tande te ondersoek, draai die konyn om soos voorheen verduidelik en rus die agterboud op ’n tafel of op u skoot. Gebruik dan twee vingers om die boonste lip (wat ’n gesplete lip is) na die kant te trek.
Die tande is dan sigbaar en behoort perfek te pas. As die tande skeef is het die konyn wanpassing (malocclusion) en die konyn moet uitgegooi word. Dit kan nie genees word nie en het tot gevolg dat die konyn nie kan eet nie.

Translated by Nina Joubert