Hantering van Bokke

©Marinda Louw
Bokke moet hanteer word vir take soos inenting, ontwurming, sortering en sny van hoewe. ‘n Stel spesiale hokke vir hierdie doel sal stres en risiko verminder vir beide die bokke en die boer. Kleinerige hokke waarin bokke hanteer kan word maak die taak makliker asin ‘n groot kamp. Bokke is intelligent en kan moeiliker wees om te hanteer in drukgange as beeste of skape. Hulle word nie so maklik aangejaag nie en is geneig om makliker te stres. As hulle bang is, bondel hulle in ‘n hoek saam of gaan lê, maar mag ook aggressief raak teenoor mekaar.
Die belangrikste ding om te onthou by die hantering van bokke is dat hulle kalm gehou moet word en dat beserings voorkom moet word. Hanteer jou bokke op ‘n stil en kalm manier en moet hulle nie forseer of druk nie. Bokke mag nie laat val of gegooi word, of gesleep word aan hul hare, sterte, bene, koppe of nekke nie.
As jy bokke hanteer, moet jy hulle natuurlike gedrag verstaan. Hulle verkies byvoorbeeld om na lig eerder as donkerte te beweeg. Hulle hou nie daarvan om in donker geboue in te gaan nie en lawaai sal hulle ontsenu. Bokke hou daarvan om ‘n leier te volg en as hulle in ‘n hok is, neig hulle om in ‘n sirkel rondom die leier te beweeg.
Bokke hou ook daarvan om in ‘n trop te bly en sal in familiegroepies beweeg, met ouer ooie wat eerste beweeg. As hulle geskei word veroorsaak dit stres. Hulle kan aggressief raak as hulle vasgekeer word en gestres is. Dit kan ook veroorsaak dat hulle spring en gapings vind waardeur hulle kan ontsnap. Wees versigtig wanneer ramme hanteer word, omdat angstige ramme jou en jou bokke kan beseer.
Vee hou oor die algemeen nie daarvan om in die donker aangejaag te word nie en reageer makliker wanneer ‘n persoon effens agter hulle, maar steeds binne hul sigbaarheidsveld staan. Om bokke te kry om met ‘n drukgang (‘n smal gang bv. voor ‘n laaibank) af te beweeg, beweeg vinnig langs die drukgang in die teenoorgestelde rigting waarin jy die bokke wil laat beweeg; dit sal die bokke vorentoe laat beweeg in die drukgang.

Hoe om ‘n Bok Vas te Hou

©Marinda Louw
‘n Bok word gevang deur saggies na sy sy te beweeg en dan die basis van die horings vas te gryp, of hoog aan die agterbeen te gryp, nooit die bok se ‘enkel’ nie. ‘n Lam word met een arm voor die voorbene en die ander arm agter die agterbene gevang. Bokke moet nie aan hul bene gesleep word nie, hul sterte moenie gelig of gedraai word nie en hulle moenie beweeg word deur slegs aan die horings, ‘n oor of die stert vas te hou nie.
As jy ‘n bok moet hanteer, hou vas aan die basis van die horings, nie die punte nie. ‘n Bok moet vasgehou word met een hand of arm onder die nek en die ander een agterom die bok se agterkant. As ‘n bok omgedop word om die buik te ondersoek of hoewe te knip of te skeer, lig altyd eers die linkerbene. Die ingewande sal antikloksgewys roteer en sal die rare voorkoms van verdraaide ingewande voorkom. (As jy kyk vanaf die stert van die bok moet dit kloksgewys roteer).
As die bok teruggeplaas word op sy bene vanuit ‘n ‘sittende’ posisie moet dit so gerol word dat die linkerpote die grond eerste raak. Moet nooit ‘n bok aan sy bene sleep nie, gebruik ‘n porstok of piets die bok oor die gesig.

Hantering van Bokke in die Veld

In groot kampe is honde (wat ver weg bly van die bokke) baie nuttig. Die bokke sal saambondel en begin beweeg sodra hulle die hond gewaar. Dit beteken gewoonlik dat hulle vinnig bult-op sal beweeg. Bokke sal altyd vinniger bult-op as bult-af beweeg. Dis moeilik om groot troppe bult-af te laat beweeg, veral as daar lammers en speenlamers by is. Hulle neig om weg te breek na die kante van ‘n bult. Beweeg stadig bult-af.
Slegs stokke met seil of bandstroke mag gebruik word wanneer bokke aangejaag word. Slaan eerder die grond as die diere self. Diere wat aangedryf word moet teen ‘n ontspanne tempo aangedryf word, nie vinniger as die stadigste dier nie en nie verder as 20km (op die eerste dag) en nie verder as 15km op daarovolgende dae nie.

Vervoer van Bokke

Bokke moet toegang hê tot vars voer en water onmiddellik voor en na hulle vervoer is. Soos bokke makker word, sal hulle herstelperiode nadat hulle vervoer is, verbeter. Soms kan bokke weier om te vreet nadat hulle vervoer is. Bokke wat ver vervoer moet word, moet in ‘n goeie kondisie wees.
Voertuie vir die vervoer van bokke moet ‘n glyvaste vloer hê (en kooigoed soos saagsels of strooi), kante hoër as 750mm, met ventilasie en lig. Voertuie moenie geheel en al toe wees nie. Die vragmotor moet bedek wees met ‘n seil om die diere te beskerm teen wind en reën, maar daar moet genoeg ventilasie wees. ‘n Vragmotor moenie vir langer as ‘n uur stilstaan sonder skadu of ventilasie nie.
Dis belangrik om bokke op vragmotors te skei in kleiner groepies om beserings en versmoring te voorkom. Skei ook diere met en sonder horings, ramme en ooie sowel as goot en kleiner diere om beserings te voorkom. Blinde diere moet duidelik gemerk word met ‘n gekleurde sirkel om die blinde oog en op beide flanke. Hulle moet apart aangejaag word.
Vervoer en stres kan onderliggende gesondheidsprobleme blootlê. Bokke mag kliniese simptome van repiratoriese infeksies en longontsteking of parasiete ontwikkel weens die stres gedurende hantering. Maak gebruik van ‘n glyvaste laaibrug wanneer bokke afgelaai word en verskaf vars water en voer so gou moontlik. Bokke moet nie afgegooi word, of toegelaat word om te spring van ‘n voertuig hoër as 1.5m nie.

Translated by Elna Van Rhyn