Grotformasie in die Wieg van die Mensdom

Grotdinamika

©Roger de la Harpe

Die hele omgewing van die Wieg van die Mensdom is deurspek van krake en foutlyne wat die forming van ondergrondse grotte veroorsaak soos wat die ondergrondse watertafel stadig die dolomiet laat oplos. 

Hierdie krake laat ook water vanaf die oppervlakte toe om deur te syfer wat die kalksteen wegvreet sodat die grotte groter word deurdat skagte vorm wat na die oppervlakte lei. Plante ‘pomp’ ook water deur die sisteem deurdat hulle hul wortels in die rotse inboor en so die tempo van erosie verhoog sodat die oppervlakrotse verkrummel en bogrond vorm. Tot vandag toe dui ‘n groepie witstinkhout- of olienhoutbome dikwels op die teenwoordigheid van ‘n sinkgat of ingang na ‘n grot.

Wanneer een van hierdie skagte deurbreek na die oppervlakte, begin grond in die grot val sodat ‘n talus cone vorm.  Hierdie cone mag allerhande materiaal bevat: klippe, bene, stokke ens.  Selfs lewende wesens mag in die grot inval en vrek of vasgekeer word sodat hulle oorblyfsels ook bygevoeg word. Dis belangrik om hiervan kennis te neem omdat dit onwaarskynlik is dat ons hominiede voorvaders baie van die dieper grotte bewoon het waar dit koud en donker was. Hulle het waarskynlik eerder per ongeluk in die grotte ingeval, of is daar ingetrek deur diere wat hulle daar in vrede wou vreet, of hulle oorblyfsels is in die grotte ingespoel deur water.

Oor tyd heen hou oppervlaktewater aan om in die grotte in te drup terwyl dit kalsiumkarbonaat (kalk) versamel uit die dolomitiese rots soos dit stadig deur die foutlyne beweeg. Hierdie suspensie van kalk in water drup dan op die materiaal wat op die grotvloer versamel het en vervang enige organiese stowwe (soos bene) deur minerale en laat versteen alles in ‘n sterk, kakagtige substansie genoem ‘breccia’. Dis hierdie breccia wat gewoonlik die gefossileerde oorblyfsels van diere en hominiede bevat, en om die fossiele in die hande te kry, moet argeoloë dit bevry uit die breccia – geen geringe taak nie.

Selfs wanneer die grotte gevorm is, is hulle nie staties nie. Grotsisteme is konstant besig om te groei en inmekaar te stort en te hervorm soos wat die aarde beweeg en die watertafel styg en daal.  Grotopeninge sluit en gaan oop soos tyd verloop. En soms stort die dak van ‘n grot heeltemal in duie en ontbloot die breccia wat dan bedek mag word deur bogrond en plantegroei.

Translated by Elna Van Rhyn