Eerste Sendingstasie in Namakwaland
Die Pella Sendingstasie
Snaaks genoeg is Pella, die eerste sendingstasie in Namakwaland, se lot duister. Sommige beweer dat dit deur die Boesmans aangeval is en die inwoners gevlug het nadat die eerwaarde en sy familie vermoor is. Volgens die reisiger, George Thompson, was die sendingstasie in 1824 verlate, maar hy het ’n paar uur verder by T’kams ’n ander sendingstasie raakgeloop. Die eerwaarde aan bewind daar het beweer dat hulle in die droë maande op soek na water rondtrek. Ander beweer dat die sendingstasie (miskien onder die bewind van die Rynse Kerk) tot 1872 bestaan het, waarna dit weens ’n uiterste droogte wat die streek verwoes het verlaat is.
Die Katolieke het in 1869 in Namakwaland, by Springbok, hulle eerste sendingstasie opgerig. Ongelukkig het die ontdekking van koper, wat verantwoordelik was vir die ontstaan van die dorp, opgedroog en daar was nie baie Katolieke vir wie hulle kon preek nie. Die pittige vader Gaudeul, van Frankryk, het egter besluit om die verlate pastorie by Pella oor te neem. Soos die Katoliek-geskrewe geskiedenis van die Pella-sendingstasie uitwys: “toe die Lutherse volgelinge hierdie aktiwiteite agterkom, het hulle briewe na die Kaap gestuur en sterk beswaar gemaak, maar hulle briewe het eers daar aangekom toe alles afgehandel was. Daar was ’n geween en gekners van tande maar die dobbelsteen was klaar gegooi...”.
Inderdaad, alea jacta est oftewel “die dobbelsteen is gegooi”. In 1878 het Pella 100 inwoners gehad waarvan 50 katoliek was. In 1882 het Jean Marie Simon by die nederige sendingstasie in die middel van nêrens aangekom. Hy en sy kollegas het ’n klein katedraal en huis vir die nonne gebou. Hulle het slegs ’n ensiklopedie gehad om hulle in hulle argitektoniese pogings te lei. Dit het 7 jaar lank gevat. Vader Simon het tot sy dood in 1932, 50 jaar later, by Pella aangebly. Hy het bekend geword as die “Biskop vir die Hottentotte” en was ’n ikoniese figuur in die omgewing. Na Pella, het die Katolieke kerk ook sendingstasies in Namakwaland, Boesmanland en die Hantam Karoo opgerig.
‘n Seën en ’n Vervloeking
Die verskeie sendingstasies, Protestant en Katoliek, was ’n seën en ’n vervloeking. Aan die een kant het dit klinieke, skole en kerke bevat en sodoende ’n netwerk van sosiale ondersteuning vir die Khoikhoi en Basters, wat onder die aanslag van die Trekboere en ander nuwelinge was, daar gestel. Aan die ander kant het die permanente dorpe wat rondom die stasies ontstaan het, ’n meer nedersettings vormende patroon aangemoedig, wat bygedra het tot die afname in die tradisionele nomadiese leefstyl. In latere jare, toe skoolopleiding vir alle kinders verpligtend geword het, het die sendingstasies ’n noodsaaklike komponent van die Khoikhoi se bestaan geword en sodoende die finale spyker in die kis geslaan.
Die inheemse Khoikhoi-tale het ook onder die sendinge se opleiding gely. Min Europeërs kon die ingewikkelde tongklik van die verskillende plaaslike dialekte bemeester. Alhoewel sommige materiaal in Khoikhoi vertaal is, was die meeste kommunikasie tussen die herder en sy kudde in Afrikaans of Engels. Gevolglik is slegs die Nama-taal, wat vandag nog in die afgeleë Richtersveld en Suid-Namibië gepraat word, die enigste oorblywende van ’n wyer taal tradisie wat eens in Suid-Afrika bestaan het.
Burgerskap
Ten slotte kan van die sendelinge gesê word dat hulle ’n stabiliserende, maar ontwrigtende invloed op Namakwaland gehad het. Hulle het ’n verskeidenheid belangrike maatskaplike dienste gelewer en het die inwoners ’n politieke stem gegee. In baie gevalle het die sendingstasies ook vir burgerskap, gewaarborgde permanente inwonerstatus vir die inheemse mense in die area rondom die stasie, geveg. Dit was veral belangrik met die aankoms van die wit boere en later die mynmaatskappye. Alles het egter teen ’n prys gekom en die regering het dikwels die mag uit die hande van die stamhoofde verwyder en aan die sendingstasies gegee. Die sendingstasies het ook die rondtrekkende Namas verplig om hulle op een plek te vestig en sodoende hulle tradisionele manier van lewe ondermyn. Soos hulle sê, die Here gee en die Here neem weg.
Translated by
Ananda Schoeman