Eerste Sendelinge in die Richtersveld

Die Sendelinge se Posisie

©Shem Compion
Die sogenaamde Hottentotte en Boesmans is deur die nuweling Europeërs as Godlose heidene en onbeskaamde sondaars afgeskryf. Dieselfde kon egter van die Europeërs in die vroeë dae van die Kaapkolonie gesê word. Van Riebeeck self het sy kollegas gewaarsku: "diegene wat afwesig is van daaglikse gebed,... baie min aandag aan hulle godsdiens gee... word hiermee gewaarsku om die plek wat vir hierdie doel daargestel is te besoek,... diegene wat afwesig bly verbeur ses dae se rantsoen wyn...".
In daardie dae het die Kompanjie die Protestantse Nederduitse Gereformeerde Kerk van Holland gevolg. Die eerste dominee, Johan van Arkel, het in 1665 by die Kaap aangekom, meer as 10 jaar na die kolonie gevestig is. Die Rooms-Katolieke en Duitse Lutherse gelowiges was nie toegelaat om hulle godsdiens te beoefen nie. Selfs die ideologies soortgelyke Franse Hugenote was aanvanklik beperk in hulle aanbidding.

Geestelike Oortuigings

Gedurende die volgende paar dekades het baie min Khoikhoi of Boesman die Christelike geloof aangeneem. Dit beteken egter nie dat die inwoners sonder geloof was nie. Hulle was net nie juis geïnteresseerd in wat met hulle siele in die hiernamaals gebeur nie. In plaas daarvan is geestelike oortuigings rondom praktiese sake soos die behoefte aan reën, die genesing van siektes, die vrugbaarheid van gewasse, die hoeveelheid vee en ander algemene sake van die daaglikse oorlewing georganiseer.
Die Boesmans het byvoorbeeld in ’n aantal “gode”, met die skepper/Kaggen die supreme godheid, geglo. Die Khoikhoi het Tsui/Goab, hulle opperste godheid wat teen die god van kwaad Guanab baklei, aanbid. Vir albei groepe het die voorvaders (geeste van afgestorwe familielede) ’n kontak tussen die lewende en die gode, wat dikwels as halfmens en half dier uitgebeeld is, verskaf. Shamanistiese rituele, beswymende danse en die gebruik van plante wat hallusinasies veroorsaak was ’n herhalende praktyk by hulle godsdienstige aanbiddings.

Die Gelowiges

Christian Albrecht het in 1805 die eerste sendingreis in Namakwaland onderneem. Later daardie selfde jaar het hy en sy broer Abraham saam met J Seidenfaden ’n sendingstasie onder die Groot Namakwa by Warmbad, die hedendaagse Namibië, gestig. In 1811 is Abraham egter dood as gevolg van tuberkulose en die stamhoof Jager Afrikaner het die sending stopgesit. Die gelowiges het toe suidwaarts gevlug na die oostelike dele van Namakwaland, aan die westelike grens van wat nou bekend staan as Boesmanland. Hier het hulle ’n nuwe sendingstasie in Pella, naby die dorp Pofadder, gestig.
Die Londense Sendinggenootskap (LSG) en ander Lutherse sendelinge het steeds reise na Namakwaland onderneem. In 1813 het Eerw. John Campbell by Pella aangekom en ’n Duitse sendeling, Christopher Sass, het ’n sendingstasie by Silwerfontein oopgemaak. In 1815 het Eerw. JH Schmelen die Bethanien sendingstasie in Namibië oopgemaak. In 1816 is Eerw. Barnabas Shaw genooi om ’n Wesleyaanse (Metodiste) sendingstasie in Leliefontein, op ’n plaas wat goewerneur Ryk Tulbagh in die mid 1700’s aan die inheemse bevolking gegee het, op te rig. Dit was op aanvraag van die stamhoof Haaimaap, ook bekend as Jantje Wildschut, gedoen. In 1818 het Eerw. Schlemen na Kookfontein, ook bekend as Kokfontein of Besondermied, gereis en het daar ’n sendingstasie gevestig. Dit is ter ere van sy mentor en leermeester in Londen Steinkopf genoem.

Pella se Lot

©Shem Compion
Kort daarna het die Rynse Sendinggenootskap ook betrokke geraak. In 1830 het een van hulle inspekteurs, Dr. E. Richter, die verre noordweste van Namakwaland besoek om hierdie afgeleë streek te inspekteer. In die middel van die 1800’s is ’n sendingstasie in Kuboes, as ’n substasie van die Steinkopf-sendingstasie, gestig. Die bevolking by Kuboes was ’n mengsel van Nama en Basters. Die hele streek het ter ere van die goeie dokter se besoek bekend geword as die Richtersveld. In 1852 het die Rynse Kerk (van die Rynrivier) ook die Concordia-sending, baie naby aan Springbok, gevestig.

Translated by Ananda Schoeman