Druiwe Kompostering

© Marinda Louw

Oorsig oor Kompostering

Nadat die plant en grond in die groeiseisoen alle voedingstowwe in groente of vrugte ingepomp het, moet teruggesit te word in die grond in die vorm van kompos. Kompos is organiese materiaal wat toegedien word om as voedingstowwe vir die grond se mikrobes te dien.

Kompos voed dus die grondmikrobes, nie die plant nie. Hierdie organiese materiaal in die grond word deur giste, swamme en ander grond mikrobes afgebreek tot dit oplosbaar is in die grondwater en dus deur die plantwortels opgeneem kan word. Sodoende word voedingstowwe aan die plant voorsien. Wanneer kompos deeglik afgebreek word deur mikrobes, word humus gevorm.

Dit is die mees stabiele vorm van koolstof. Die voordele van humus is ondermeer die behoud van minerale, behoud van water (die humus-komplekse absorbeer en bind water) en help om die pH van die grond te stabiliseer deur bufferaksie. Die effek van kompos op ‘n plant se groei kan aanhou oor verskeie seisoene.

Die hoeveelheid kompos toegedien is afhanklik van die gewas wat verbou word, kwaliteit van die oes wat verwag word en word ook bepaal deur die grond se behoeftes en die voedingstowwe in die kompos. Dit is daarom belangrik om die mineraal inhoud, pH en ander eienskappe van die kompos te bepaal (deur ontleding) voor toediening.

Dit moet egter onthou word dat tekorte in die plant met blaarvoedings en byvoegings reggestel moet word. Kompos word hoofsaaklik bygevoeg om die grond en die grondlewe te verbeter. Sommige produsente voeg ook kompos in die grond by met die plant van nuwe gewasse. Goeie kompos verbeter grond-struktuur en waterhouvermoë.

Die mees algemene vorm van kompos word verkry deur ‘n mengsel van dieremis (stikstof) soos beesmis en plantmateriaal (koolstof) soos strooi, fyngekapte bome (uitheems) of blare. Afvalprodukte op die plaas soos afval vrugte of groente, druiwedoppe, gekapte dekgewasse en snoeilote kan ook gebruik word vir kompos.

Vir die optimale afbreek van rou bestandele na ‘n goed-gebalanseerde kompos is ‘n spesifieke verhouding van koolstof tot stikstof nodig - die sogenaamde C:N verhouding.

Die mikrobiologiese proses om kompos te vorm verg vog, suurstof en tyd asook ‘n temperatuur van 50 - 60℃ vir ‘n bepaalde tyd om onkruidsade te vernietig. Kompos moet goed ‘verteer’ wees aangesien ‘rou’ kompos plantwortels kan brand en minerale uitgeloog word.

‘n Algemene aanbeveling vir die toediening van kompos is 20 - 30 m³ /ha vir groente en sowat 10 m³ /ha vir wingerde, vrugte en graan, waar minimum bewerking toegepas word. Selfs so min as 5 m³ /ha goeie mikrobe-ryke kompos kan ‘n verskil maak in grond wat mikrobiologies dood is.

Komposekstrak - ‘n vloeibare mengsel van kompos en water wat m.b.v. ‘n borreltenk deurlug is - kan deur die besproeiingstelsel of as grondspuit toegedien word.

Translated by Marinda Louw