Draakvrugteboerdery kom wêreldwyd voor waar die klimaat geskik is vir hierdie tropiese kaktusse. Dit sluit Suid-Afrika in vanwaar die uitvoer van hierdie groot, skubagtige vrugte besig is om geweldig toe te neem.
Draakvrugte word die beste gekweek deur middel van steggies.
Die plante verkies goed bemeste en gedreineerde grond, en warm areas met ‘n reënval van ten minste 400 mm tot 1 500 mm per jaar. Hoëdigtheids-aanplantings van tot 1 250 plante/ha is moontlik met spasiëring van 4 m x 2.5 m tot 5 m x 2.5 m, afhangende van oplei-sisteme.
Die dik, vlesige stamme kan tot 4 m hoog word in ‘n enkele groeiseisoen en moet opgelei word teen ‘n enkele paal of ‘n prieël wat ongeveer 1.8 m hoog is. Vooraf gegiete betonpale word algemeen gebruik en drie tot vier plante kan aan een paal vasgemaak word.
Onder Suid-Afrikaanse toestande, veral in areas met ‘n jaarlikse reënval laer as 400 mm reën per jaar, word besproeiing van Draakvrugte aanbeveel. Besproeiing mag lei tot die produksie van groter vrugte.
Draakvrugte reageer goed op grond en blaarvoeding.
Die groot, geurige draakvrugteblomme blom slegs vir een nag en word in die natuur bestuif deur naglewende bestuiwers soos vlermuise en motte. Daar is bevind dat handbestuiwing van draakvrugteblomme groter vrugte kan lewer, maar in Suid-Afrika dra bye by tot die bestuiwing van Draakvrugtevrugte. Blomme begin teen 18:00 oopmaak en maak eers weer teen 11:00 die volgende oggend toe, wat genoeg tyd laat vir bye om die ryk stuifmeelbron te benut. Die blomme is tot 30 cm groot, en bevat ongeveer 100 g stuifmeel en die kombinasie van byeboerdery en draakvrugteboerdery kan dus ‘n lewensvatbare opsie wees om ‘n boerderysisteem te diversifiseer, met die bykomende voordeel van verhoogde bestuiwing, aldus Max van Heerden van Dragon Fruit South Africa.
Lig en klimaat stimuleer die plante om te blom en draakvrugteplante het daagliks 12-14 uur lig nodig. Dus kan kunsmatige beligting gebruik word om die plante meer te laat blom. In Suid-Afrika is dit egter onprakties en duur, maar proewe word gedoen met addisionele beligting by die Amorentia Estate & Nursery in Limpopo. ‘n Ekstra twee tot drie uur kunsmatige lig word gebruik in lande soos Viëtnam waar die wolkbedekking gedurende die somer blootstelling aan sonlig beperk.
Draakvrugteplante is sensitief vir intense sonlig, ryp en te veel water of om in permanente nat grond te staan. Diere soos vee, voëls en ape is baie lief vir die vrugte en blare, en sommige Draakvrugte-aanplantings word onder skadunet gedoen om die rypwordende vrugte teen voëls en haelskade te beskerm. In Suid-Afrika word skadunet egter nie dikwels gebruik nie.
Suid-Afrikaanse navorsing fokus op pes en plaagbeheer in Draakvrugteboerdery.
Peste sluit in myte, blaaspootjies, miere, dopluise, wolluise, kewers, naakslakke, boorinsekte, rondewurms, vrugtevlieë en knaagdiere.
Draakvrugteplae sluit in stamvrot, Anthracnose (wat rooi-bruin merke veroorsaak) en fungale patogene soos Fusarium spp. en Aspergillus spp. Daarby is draakvrugte ‘n vrugtevlieggasheer en bestraling of warmlugbehandeling kan gebruik word vir disinfestasie. In Suid-Afrika is vrugtevlieglokaas effektief.
Die grootste kwaliteitsprobleme met die uitvoer van draakvrugte is kneusing en fungale infeksies wat met oorryp vrugte geassoisieer word.
Soos die vrugte ryp word, begin dit van kleur verander teen 26-30 dae na bevrugting. Dit behoort gereed te wees om geoes te word binne 30 tot 34 dae, ‘n paar dae nadat die vrugte van kleur verander het. ‘n Algemene aanduiding van rypheid by draakvrugte sluit in kleur van die skil, totale suur en suikervlakke (Gemeet in °Brix) maar ‘n goeie balans tussen soet en suurvlakke verseker optimale smaak, volgens Howard Blight van Amorentia Estate & Nursery in Limpopo.
Nadat die vrugte met die hand geoes is, word dit gewas in ‘n voedsel-graad ontsmettingsmiddel en dan volgens gewig geklassifiseer. Daarna word die vrugte gesorteer volgens oppervlakkige beskadiging deur bv. miere of vrugtevlieë, inkrimping, kleur van die skil, sowel as kleur en toestand van die skutblare.
Plante dra vrugte twee jaar nadat hulle geplant is en is in volle produksie binne vyf jaar. Afhangende van die kultivar en gehalte van die aanplantings, kan opbrengste van 15 tot 35 ton/ha verwag word.
Uitvoervrugte kan verpak word in wit polistireen net, soos die geval met papajas, in papier toegedraai en in plat kartonne of kleiner bakkies gepak word. Vir massa-uitstallings in winkels kan draakvrugtes in hoeveelhede van 10 kg verpak word.
Draakvrugtes het ‘n raklewe van twee weke indien dit by ongeveer 10°C geberg word. Vir uitvoer behoort Draakvrugte gehou te word by tussen 3°C - 5°C vir ‘n raklewe van tussen 27 en 42 dae.
Die optimum relatiewe humiditeit is tussen 85% - 90%. Raklewe kan verleng word deur gebruik te maak van beheerde atmosfeer tydens koue berging, terwyl gemodifiseerde atmosfeersakke die raklewe van draakvrugte kan verleng tot 42 dae.
As draakvrugte oorryp is, bv. klas III vrugte, kan dit geprosesseer word in sap en vrugtepulp wat gebruik kan word as waardetoegevoegde produkte soos wyn, vrugterolle en konfyt. Eetplekke soos Kauai en Starbucks gebruik draakvrugte vir “smoothies” en ‘‘refreshers’’.
Translated by Elna Van Rhyn