Die Voer van Melkbokke
Bokke is veelsydig in hul keuse van kos en waar geskikte bosse en bome beskikbaar is, sal hulle verkies om blare te vreet. Daarom word daar in verskeie dele van die wêreld bome aangeplant vir hierdie doel. Byvoorbeeld Leucaena leucocephala wat in Suid-Afrika bekend staan as die ‘lead tree’, white popinac (Engels), reusewattel of stuipboom (Afrikaans) en ubobo; ulusina (isiZulu). Hierdie boom word beskou as ‘n indringerspesies in Suid-Afrika en word dikwels langs stroompies aangetref.
Melkbokke is anders as ander bokrasse en kan nie produktief wees as hulle slegs natuurlike plantegroei soos veldweiding het om te vreet nie. Die hoofdoel met die voeding van melkbokke moet wees om al die voedingstowwe te verskaf in die korrekte hoeveelhede en proporsies teen die laagste koste. Melkbokke moet doeltreffende hoeveelhede melk lewer en hulle moet reg gevoer word om hulle potensiaal te bereik. Enige addisionele aktiwiteit soos stap, groei, dragtigheid of laktasie beteken dat daar ekstra voorsiening gemaak moet word afgesien van die normale liggaamsinstandhouding.
Voedingsbehoeftes van ‘n melkbok verskil wanneer sy dragtig is en nadat sy gelam het. Vir die beste bestuur moet die trop verdeel word in produksiegroepe.
Droë Bokke
‘n Droë bok (nie-lakterend) sal waarskynlik niks meer as goeie kwaliteit ruvoer nodig hê nie, tensy sy baie maer is of in die laaste maand van haar dragtigheidsperiode is nie. Ooie wat gewig optel na paring is meer geneig om tweelinge te lam as die wat hul gewig behou of selfs verloor.
Voedingsbehoeftes van ‘n Dragtige Bok
In die ses weke voordat sy lam moet ‘n ooi se uier rus en melkweefsel moet hernu word. Byna 70% van die boklam se ontwikkeling vind plaas in die 6 weke voordat die ooi lam.
Voer genoeg energie in die laaste maand van dragtigheid wanneer die ongebore lammers in die uterus groot eise stel aan die ooi se metabolisme. As die dieet nie gedurende hierdie periode genoeg energie bevat nie, sal die ooi se vetreserwes ingespan word. Maar as die eise nog groter is, mag die lewer ingee, en die ooi sal vrek aan ketose (‘dragtigheidsvergiftiging’). Die ideale liggaamskondisietelling vir ‘n dragtige bokooi behoort 2.5 tot 3 te wees.
As ‘n bok dragtig is met ‘n tweeling, sal sy beperk wees in die hoeveelheid voer wat sy kan vreet.
‘n Hoë kwaliteit, smaaklike dieet met genoeg goeie kwaliteit ruvoer is nodig gedurende hierdie tyd.
Voedingsbehoftes van ‘n Lakterende Bok
©Susan Schoenian University of Maryland Extension
Vir elke 3 liter melk wat sy produseer, het ‘n ooi 1.5 kg goeie kwaliteit hooi nodig plus nog 500 g hooi vir instandhouding, asook 1 kg konsentraat. As mekbokke wei behoort hulle ten minste 4 tot 6 kg goeie kwaliteit weiding per dag in te kry – 4 kg groenvoer is gelyk aan 1 kg hooi. Lakterende melkbokke sal ‘n konsentraat met ‘n gemiddelde proteïene inhoud 15 – 17% met die totale verteerbare voedingstowwe (TDN) van die konsentraat rondom 66 -75% nodig hê.
As ooie gevoer word met ‘n volledige rantsoen, moet hooi en strooi te alle tye beskikbaar wees.
Goeie kwaliteit ruvoer moet aan lakterende ooie gevoer word sodat die hoeveelheid duur suiwelmeel so klein as moontlik is. Oor die algemeen behoort ruvoer sowat 40% tot 60% uit te maak van die daaglikse droë materiaal inname van lakterende bokke.
Byvoorbeeld, ‘n hoog-produserende ooi wat 4 liter melk per dag lewer, mag ‘n totaal van 3 kg droë materiaal (DM) vreet, waarvan 1.2 kg DM in die vorm van lusernhooi en 1.8 kg DM in die vorm van suiwelmeel kan wees. Beide die lusern en die suiwelmeel sal ongeveer 90% DM wees, sodat die werklike hoeveelhede wat gevoer is sal wees: lusernhooi: 1.2 x 100 = 1.3 kg en suiwelmeel: 1.8 kg x 100 = 2.0 kg.
As die lusern vars is (nie hooi nie), sou die droë materiaal 24% kon wees, in welke geval die hoeveelheid lusern tot voer (om dieselfde DMI ruvoer te kry) sou wees: 1.2 x 100 = 5 kg.
Let asseblief daarop dat inligting slegs vir opvoedkundige- en inligtingsdoeleindes is en nie beskou moet word as voer- of voedingsadvies nie. Vir meer inligting oor hoe om jou diere te voer, skakel jou diergesondheidstegnikus, veearts of dierevoerverskaffer.
Translated by Elna Van Rhyn