Omstreeks 1220 n.C. het die mense van K2 besluit om na 'n beter omgewing te beweeg. Dinge het goed gegaan met hulle, soos hulle ontluikende handelsnetwerk en hulle welvarende velde.
Hulle het gevoel die tyd het gekom om 'n hoofstad te stig wat hul opwaartse mobiliteit beter verteenwoordig het. Hierdie hervestiging was nie net 'n kwessie van “Nuwe Geld” wat hulle wou vertoon nie. Dit was 'n aanduiding van 'n gedaantewisseling binne die samelewing.
Volgens Thomas Huffman, ’n argeoloog by Wits-Universiteit, het die enorme rykdom wat deur die Indiese Oseaan gegenereer is tot 'n ongekende ongelykheid gelei en regerende families het 'n hoër klas geword. Daarbenewens sou 'n groeiende bevolking, wat ondersteun is deur die oorstromingsvlakte landbou, gehelp het om die bestaande sosiale verskille te versterk.
Teen 1220 n.C. het die K2-samelewing verander van een gebaseer op sosiale posisie na een gebaseer op sosiale klasse. Geld om alles op op te mors!
Die terrein wat hulle vir hulle nuwe hoofstad gekies het, was 'n lang, tafelheuwel, net 'n kort afstand noordoos van K2, aan die ander kant van Bambandyanalo Heuwel. Dit was 'n steil sandsteenklipbank wat 30 meter hoog, 300 meter lank en tussen 15 en 50 meter breed meet.
Die oewer van die Limpoporivier was ongeveer een kilometer noord. Ons weet nie wat hulle hierdie heuwel genoem het nie. Die moderne naam, Mapungubwe, is afgelei van 'n blinde oupa met die naam Mowena, wat eers in 1931 die heuwel vir witmense uitgewys het.
Aangesien die woord nie duidelik in die Sotho-, Shona- of Venda-tale behoort nie, is dit moeilik om die presiese betekenis daarvan te bepaal. Die mees algemene interpretasie is “plek van die jakkals”, van die Sesotho-woord “pungubye” en die TshiVenda-woord “punguvhe”, wat beide “jakkalse” beteken.
Die jakkals waarna verwys word is vermoedelik die kragtige heerser wat daar gewoon het. Die Lemba-stam vertaal egter die naam as “die plek waar die rots vloei soos 'n vloeistof of water” en dit kan verwys na die antieke mense se vermoë om met gesmelte metaal te werk.
Dit kan ook “plek van wysheid” beteken, volgens Matole Matshekga, hoof van Kora Heritage Institute. Ander glo dat dit geassosieer word met die Shona-agtervoegsel “-bwe”, net soos in Zimbabwe, wat verwys na “agbare klippe of huise”.
Wat hulle ookal dit genoem het, die heuwel was 'n goeie plek vir 'n hoofstad. Die rante was baie steil, en daar was net vier steil opgange na die bokant wat almal maklik verdedig kon word.
Tog, ten spyte van die onaantasbaarheid van hierdie natuurlike fort, is dit nie hoofsaaklik gekies om inheemse stamme uit te hou nie. Trouens, daar is geen bewyse wat daarop dui dat die mense van K2 met enigiemand in oorlog was nie en die hele tydperk blyk ongewoon vreedsaam te gewees het.
Die heuwel is waarskynlik eerder gekies om die nie-adellikes uit te hou. Teen hierdie tyd het sosiale stratifikasie binne die K2-kultuur so 'n verhoogde toestand bereik dat die koninklike gevolg gevoel het dat hulle fisies geskei moes wees van hulle onderdane.
Gevolglik het die opperhoof, sy onmiddellike gesin, raadgewers en lyfwagte tot bo-op die hoë verhuis. Die nieadellike burgers het toe hulleself gevestig in nuwe hutte wat op terrasse rondom die voet van die heuwel gebou is. Praat van 'die een wat die septer swaai'!
Die sosiale verdeling binne die K2-gemeenskap het dus ruimtelike/fisiese verdelings geword. Dit was die eerste keer in die Afrika-geskiedenis dat so 'n houding sigbaar geword het - hoewel dit beslis nie die laaste sou wees nie.
'n Skrikwekkende lang lys van Afrika-diktators het sedertdien die Mapungubwe-voorbeeld gevolg en hulself in vergulde isolasie gesit, ver van die geween van hulle onderdane.
Dieselfde kan van die Europese konings gesê word. Of enige moderne outokraat. Dit is onduidelik of die nuwe bedeling by Mapungubwe die wil van 'n besonders kragtige koning was, of dit deel was van 'n kollektiewe besluit om die klasseverskille van die samelewing te verskans.
Dit mag dalk ook geestelike weerklink het, aangesien die heuwel geassosieer word met reënmakery en ander heilige funksies wat die koninklikes se diensgebied was.
Die stelsel het in elk geval geblyk om werk en die Mapungubwe-kultuur het vir die volgende 75 jaar floreer. Hierdie kort maar glansryke “Goue Periode” was net so lank soos die regeertyd van een of twee konings (of dalk meer), maar in daardie tyd was die mense van Mapungubwe baie bedrywig.
Die berg moes eers vir die koning voorberei word. Dosyne tonne grond is die heuwel opgedra en gebruik om die ongelyke rotsoppervlakke gelyk te maak. Hutte is toe vir die koning se gevolg (familie, raadgewers en wagte) gebou en die toegangsroetes na die bokant van die heuwel is voorberei.
Op die hoofopgang, die een wat nog steeds deur moderne toeriste gebruik word, is kepe in die rots gemaak en kort pale is daarin geplaas om as stappe op te tree. Hulle het ook hierdie toegangsroetes beveilig met stapels klippe wat op die koppe van enige onwelkome besoekers afgegooi kon word.
Aan die voet van die heuwel was 'n kring huise vir die minder-koninklikes, en verder aan het die gewone burgers gewoon in 'n aantal woongebiede wat oor die terrasse versprei het. Elke “voorstad” sou sy eie hoof of hoofman gehad het.
Argeologiese bewyse het getoon dat daar voor 1220 reeds 'n klein dorpie by Mapungubwe was, en dit is waarskynlik afgebrand en herbou om al die mense van K2 te huisves.
Dit was algemene gebruik in die streek om ou hutte wat onstabiel raak af te brand en dan nuwe hutte op dieselfde plek te bou. Die diep afsettings wat op die suidelike terras van Mapungubwe gevind is, toon dat dit 'n paar keer gebeur het tydens die vinnige groei van die hoofstad.
Translated by Nina Joubert