Die Belangrikheid van Heuningbye

© NP Mothapo

Bestuiwers verskaf oor die algemeen ‘n wye reeks voordele aan mense. Ons welsyn hang grootliks af van verskeie ekosisteme en hulle funksies. Die goeie gesondheid van hierdie ekosisteme word in ‘n groot mate bepaal deur bestuiwers. Bestuiwing is die oordra van stuifmeel vanaf die manlike na die vroulike gedeeltes van blomme en die resultaat is vrugvorming.

Die meeste vrugte, saad en bessie-oeste steun swaar op insekte, veral heuningbye, om ‘n vrugte of saad-oes te verseker. Heuningbye word wêreldwyd as die belangrikste bestuiwende insek beskou.

Hulle is algemene bestuiwers, wat beteken dat hulle ‘n wye verskeidenheid blommende plante besoek. Wat hulle meer spesiaal maak as ander bestuiwers, is die feit dat hulle bestuur kan word deur byeboere. Hulle kan in korwe gehou word en verskuif word na beter voedingsgebiede.

Die Voordeel van Bye

Wat is dit wat heuningbye bydra tot ons welsyn wat hulle so belangrik maak? En kan ons nie hierdie voordele uit ander bestuiwende insekte ook kry nie? Wel, navorsingsfeite bevestig die volgende: Bye onderhou populasies wilde plante wat die meeste biodiversiteit en ekosisteemfunksies ondersteun.

Bye is die belangrikste groep bestuiwers omdat hulle meer as 90% van die vernaamste 107 globale gewassoorte besoek. In Suid-Afrika is meer as 50 gewasse afhanklik van bestuiwing deur bye. Bye verseker dus ‘n betroubare en diverse saad en vrugtevooraad deur bestuiwing. Hiermee saam kom die verbetering van oesopbrengste en kwaliteit weens behoorlike bestuiwing.

Data bewys dat die gebruik van kommersiële heuningbye vir bestuiwing vrugvorming, gewig en kwaliteit verbeter. Dit het onlangs duidelik geword dat bestuiwings-afhanklike gewasse hoofbronne van baie mikronutriënte is, wat vitamien A en C, kalsium, fluoried en foliënsuur insluit.

Bye bestuif die meeste van hierdie gewasse. Bye dra indirek by tot werskepping en indiensneming, beide in byeboerdery en op plaasvlak. Dis ‘n reuse bydrae tot voedselsekuriteit en verligting van armoede. Die verkoop van heuning en ander by-verwante produkte (soos byebrood en byewas) skep ‘n geleentheid vir die genereer van inkomste.

Bye verteenwoordig en bevorder beide tradisionele en kulturele waardes. Heuning het byvoorbeeld medisinale eienskappe verwant aan anti-bakteriële en diabetiese agente.

In lande soos China, Egipte, Spanje en Mexiko, word bye sterk vereenselwig met erfenis, kuns, musiek en ‘n mate van sosiale verwantskappe. In Suid-Afrika is van die vroegste assosiasies tussen die mens en heuningbye dié van die Boesmans. Hulle het hul verhouding met bye uitgebeeld in hul rotskuns.

Die Heuningbybedryf Feite vir Suid-Afrika

In terme van bestuiwingsdienste wat deur byeboere beskikbaar gestel word aan boere, is die sagtevrugtebedryf die bes-gedokumenteerde.

Hierdie bedryf het ‘n jaarlikse omset van meer as R13 biljoen en skep meer as 180 000 werksgeleenthede (HORTGRO 2016). Die Western Cape Bee Industry Association se aanbevole bestuiwingstarief is R802 vir 2018, ‘n verhoging vanaf R745 in 2017 (WCBA 2018).

Heuningbyprodukte se waarde word geskat in die omgewing van R100 miljoen (Allsopp, 2000). Die byebedryf verskaf werksgeleenthede aan meer as 3000 mense (NAMC Report 2008).

Translated by Elna Van Rhyn