Clairette Blanche

Naam

Clairette Blanche

Beskrywing

Clairette Blanche is ’n wit wyndruif wat dateer uit die 1500’s. Dit is oorspronklik wydverspreid in die suide van Frankryk aangeplant en word gebruik in die vervaardiging van vonkelwyn, maar ook as ’n tafeldruif.

Oorsprong

Frankryk

Ander Name

Clairette Blanche beteken ‘duidelik wit’. Daar is meer as 69 sinonieme vir hierdie variëteit. Dit is ook bekend as Blanquette, AG Cleret, Piquepoul of Clarette. Bourboulenc is ’n aparte variëteit, alhoewel dit ook Clairette en Clairette Blanche as sinonieme het.

Produksie in Suid Afrika

Oorspronklik is Clairette Blanche in 1906 in die Groot-Drakenstein area in Suid Afrika aangeplant. In 2016 is 35 hektaar Clairette Blanche uitgeroei, maar daar is nog 195 hektaar wingerde, meestal in Worcester (88ha), Paarl (34ha) en Robertson (33ha).

Groei

Clairette Blanche is ’n sterk groeier met bros lote wat sensitief is vir wind. Dit kan as ’n bosstok groei of opgelei word en pas goed aan by goed dreinerende vrugbare grond in koel klimaatstoestande.

Clairette Blanche is sensitief vir droogte (verloor blare) en gereelde besproeiing is nodig. Die opbrengs is 16 – 18 ton per hektaar en dit word by 19 - 21°Balling gepluk. Grade Balling dui die suikerinhoud in druiwe aan en of dit gereed is om te oes.

Oestyd

Clairette Blanche word laat ryp, gewoonlik die einde van Maart en omtrent drie weke na Chenin Blanc.

Druiwekorrels

Die korrels is groot en ovaal met ’n dun maar ferm dop.

Siektes en Plae

Clairette Blanche is baie vatbaar vir donsskimmel en vlamsiekte, maar kan antraknose en oïdium (witroes) weerstaan. Die trosse is nie kompak nie en is bestand teen botritis en suurvrot. Die bros lote kan maklik deur die wind beskadig word.

Gebruik

Die druiwe oksideer vinnig (wyn het ’n kort veroudering potensiaal) en produseer wyn met ’n lae suurvlak en hoë alkoholinhoud. Voorheen is Clairette Blanche gebruik om vonkelwyn te maak, maar tans word dit meestal in ’n versnitwyn gebruik.

Indien dit vroeg geoes word kan dit houtgegis word wat tot ’n ryker smaak op die tong lei. Clairette Blanche is ook ’n tafeldruif.

Smaak

Clairette Blanche word nie dikwels as ’n enkel variëteitswyn gebruik nie. Dit produseer ’n helder wyn wat in versnitwyne gebruik word om vrugte smake soos lemmetjie, pynappel, groen pruim en selfs sitroengras by te voeg.

Clairette Blanche word beskryf as ‘pap/lyfloos’ met blomgeure (moontlik roos) en ’n bietjie sitrus en steenvrug ondertone. Met perfekte groeitoestande kan ’n volronde wyn met delikate ester nuanses, wat dikwels beskryf word as roosblaar, geproduseer word.

Translated by Ananda Schoeman