Chenin Blanc

© Glenneis Kriel

Beskrywing

Chenin blanc is ’n witwynkultivar wat gebruik word om wyn, vonkelwyn en gefortifiseerde wyn, soos port, sjerrie en brandewyn, van te maak. Dit is die kultivar wat die wydste geplant word in Suid-Afrika. DNA analise het Savignin geïdentifiseer as een van die ouerplante waaruit Chenin blanc ontwikkel is. Die identiteit van die ander ouerplant is onseker.

Oorsprong

Chenin blanc kom oorspronklik van Anjou-Touraine in Frankryk. Die kultivar was vroeër bekend as Chènere, maar die naam is in die 15de Eeu verander na Chenin blanc, na die berg in die streek, Mont Chenin.

Ander Name

Franc-blanc, Franche, Pineau, Pineau de la Loir en Pinot Blanco. In Suid-Afrika word daar soms nog na die kultivar as Steen verwys.

Produksie in Suid-Afrika

Daar word gemeen dat Chenin blanc onder die eerste wynstokkies was wat in goewerneur Jan van Riebeek se tyd in die Kaap geland het. Daar was lank na die kultivar as Steen verwys and selfs gedink dat dit ’n unieke Suid-Afrikaanse mutasie van Chenin blanc was.

In die mid-1960s het professor CJ Orfer, wat op daardie stadium die hoof van Wynboukunde by Stellenbosch Universiteit was, egter vasgestel dat die kultivar presies dieselfde is as die Chenin blanc wat sy oorsprong in Frankryk het. Verskeie redes word aangevoer hoekom Suid-Afrikaners na die kultivar as Steen verwys het.

Goewerneur Simon van der Stel, vir een, was onder die indruk dat die wyn van Duitsland afkomstig was en het dit met die beste Duitse Stein wyne vergelyk. ’n Ander rede is dat die kultivar, as gevoel van sy aanpasbaarheid en veelsydigheid, die hoeksteen, en daarom die naam Steen, van die Suid-Afrikaanse wynbedryf gevorm het.

Produksiestreke

Dit word in al die wynproduserende streke van die land geplant, met die grootste aanplantings in die Breedekloof, Olifantsrivier, Paarl, Swartland en Worcester.

Groeikrag

Die kultivar is ’n matige tot sterk groeier en het ’n gemiddelde produksiepotensiaal van 22t/ha tot 23t/ha.

Rypwording

Rypwording vind plaas vroeg midseisoen, vanaf die tweede helfte van Februarie.

Korrels

Die korrels is klein, ovaal en groengeel van kleur. Die dop is dun en sag. Die vleis is baie sappig.

Blare

Die blare is van ’n medium grootte, donkergroen, rond en het tot drie lobbe.

Peste en Siektes

Die kultivar is sensitief vir botrytis, suurvrot, witroes en donsskimmel. Vroeë bot stel dit bloot aan lenterypskade.

Gebruik

Dit word as ’n werkperd in Suid-Afrika beskryf, omdat dit gebruik word om natuurlike droë tot natuurlike soet wit tafelwyne, vonkelwyn, dessertwyn en gefortifiseerde wyne mee te maak. Dit word ook goed gebruik as versnit met verskeie ander kultivars. Suid-Afrika het oor die jare bekendheid verwerf as ’n wêreldleiers as dit kom by die produksie van topgehalte Chenin blanc wyne.

Wyn

Produsente in koeler streke, soos Elgin, is geneig om ongehoute Chenin blanc wyne te produseer met ’n lemmetjiegroen kleur en ’n ligte vrugtige smaakprofiel. Produsente in warmer streke, soos Stellenbosch en Franschoek, is weer geneig om houtverouderde wyne te produseer met ’n goue kleur en ’n tropiese smaakprofiel.Translated by Glenneis Kriel