Hoe om ‘n Besluit te Neem in Boerdery

© Marinda Louw

Aangesien boerdery ‘n besigheid is en geld en tyd is ter sprake, moet besluitneming nie geïmproviseer of oorhaastig gedoen word nie. Boere moet die plaas se bronne in berekening hou. Bronne kan insluit personeel (arbeid), geld, tyd, beskikbaarheid van water en markvereistes. Al hierdie bronne behoort geïtegreer word in die boer se doelwit: om ‘n wins te maak.

Ander boerderydoelwitte wat ‘n rol mag speel in besluitneming op die plaas is:
Verhoog produksie en verkope
Verlaag onkoste
Vermy risiko’s en skuld
Om ‘n goeie lewenstandaard te handhaaf en vir die familie te sorg.
Om te verseker dat die plaas op die lang duur oorleef.

Die Besluitnemingsproses

Die besluitnemingsproses op ‘n plaas (en, inderwaarheid, enige faset van die lewe), kan verdeel word in vyf stappe.

Identifiseer die probleem
Daar mag ‘n probleem wees, soos ‘n swak oes, maar wat is die oorsaak van die probleem? Gebruik jy saad van ‘n swak kwaliteit? Plant jy te vroeg sodat saailinge deur ryp beskadig word? Is jou gond te arm?

‘n Probleem kan ook ‘n geleentheid wees om te te groei. Begin deur inligting in te samel. Byvoorbeeld, vind uit hoe dit op buurplase gaan – gebruik hulle kompos of kunsmis, wanneer plant hulle, hoeveel besproei hulle, ensovoorts.

Ondersoek alternatiewe oplossings of aksies
Nadat die probleme en die ware oorsake daarvan geïdentifiseer is, behoort alternatiewe oplossings ondersoek te word. Kan jy jou planttyd verander, kompos toedien of beter saadkultivars gebruik? Dit moet uitgetoets word om te sien wat die impak mag wees – om vroeër te plant of die grond met kompos te verryk voordat jy plant mag lei tot beter groei, wat weer ‘n verhoging in winste tot gevolg mag hê.

Kies die beste alternatief
Watter van die alternatiewe sal meer waarskynlik plaasproduksie verbeter? Vergelyk die voordele en nadele van elke alternatief in terme van koste, hoeveel arbeid benodig word, tydsberekening en risiko’s. (Bv. kompos kan duur wees om te koop en te vervoer, maar jy het beeste en jy kan jou eie maak, hoewel dit langer sal duur.)

Implementeer die besluit
Wanneer jy die die beste alternatief implementeer, moet jy dit in werking stel. Die nodige bronne (bv. arbeid, besproeiing, bemesting) moet georganiseer word, wat aksie impliseer. Die besluitnemer behoort verantwoordelikheid te aanvaar om dit te laat gebeur. (Bv. stel iemand aan om mis bymekaar te maak en te begin kompos maak, kies ‘n tyd om die kompos toe te dien en beplan vir genoeg arbeid om die kompos op die regte tyd toe te dien)>
Evalueer die besluit
Monitor die vordering om te sien of die doelwitte bereik is. Rekordhouding in boerdery is noodsaaklik om op hoogte te bly van veranderinge en verbeteringe. Skryf alle veranderinge neer, asook die resultate wat behaal is. (Bv. Hoeveel kompos is toegedien, wat was die verskil in opbrengs in vergelyking met die gedeeltes waar jy nie kompos toegedien het nie?)

Translated by Elna Van Rhyn