Velprobleme by Varke - Besering en Sonbrand

©Glenneis Kriel
Volgens die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-Organisasie se Pigs for Profit handleiding het ’n gesonde vark ’n skoon, sagte vel met ’n effense glans. Iets is verkeerd as die vel rooi of pers word, stukkend is, gewond is of bloei, sweer, smerig, verdik of skurf is. Nog tekens is kaal kolle, sigbare parasiete en varke wat hulleself voortdurend teen voorwerpe skuur om die gejeuk te verlig. Slegs ’n paar kondisies wat ’n vark se vel kan aantas word hier genoem.

Besering

©Dr Jim Robinson
Wonde, stukkende vel, sweersel en vlieë wat op ’n klein area op die vark bly sit kan as gevolg van ’n bakleiery, gebyt of beserings deur skerp voorwerpe, soos spykers, drade of die kante van skerp metaalplate wees.
Behandeling
Wonde moet met ’n ontsmettingsmiddel skoongemaak word en met ’n wond-spuitmiddel soos jodium of gentian violet behandel word. Boere moet ’n oorbevolking van varke vermy aangesien dit tot ’n bakleiery sal lei. Varkhokke en terreine moet gereeld nagegaan word om goed wat beserings kan veroorsaak te identifiseer, verwyder, beveilig of te herstel.

Sonbrand

©Glenneis Kriel
Varke met wit velle is veral sensitief vir sonbrand. Dit sal ’n pynlike rooi vel en soms ook blase veroorsaak. Sonbrand kan ook tot gevolg het dat varke hitteuitputting kry. Moontlike simptome is angs, ’n hoë asemhalingstempo, bewende spiere, rooi vel, swakheid, braking, diarree, dehidrasie en koors. As varke nie betyds behandel word nie kan hulle van hitteuitputting doodgaan.
Volgens ’n artikel van NADIS (National Animal Disease Information Service), Pig Health – Sunburn and heat stroke/heat stress, kan sonbrand met ander velprobleme wat die vel rooi verkleur en blase laat kry verwar word. Dit kan ’n verhoogde sensitiwiteit vir sonlig wees wat veroorsaak word deur sekere plante soos witwortels, wortels, pietersielie, canola en hawer.

©Dr Jim Robinson
Behandeling
Om sonbrand en hitteuitputting te verhoed moet al die varke tot genoeg skaduwee en koel skoon drinkwater toegang hê. ’n Moddergat vir varke wat buite aangehou word kan gedeeltelike beskerming bied as die vark se hele lyf met dik modder bedek is.
NADIS stel die gebruik van ’n “rescue cream” of versagtende middel voor om ongemak te verlig en erge sonbrand te laat genees. Die gebruik van niesteroïdale anti-inflammatoriese pynstillers sal in ernstige gevalle nodig wees.
Die Pig Site se Quick Disease Guide beveel aan dat boere varke vir hitteuitputting behandel deur die diere in koue water te dompel of koue water in die rektum met ’n terugslagklep (flutter valve) te spuit of te drup.

Translated by Ananda Schoeman