Winnie Mandela – Jongdae

Gebore in die Transkei

©Eric Miller
Op 26 September 1936 is Nomzamo Winifred Zanyiwe Madikizela op Bizana, in die deel van die Oos-Kaap wat toe as Transkei bekend gestaan het, gebore. Haar ma, Nomathamsanqa Mzaidume (Gertrude), was 'n huishoudkunde onderwyseres en haar pa, Columbus Kokani, was minister van die Bosbou- en Landboudepartement van die Transkei. Winnie was die vierde van agt kinders.
Winnie se ma is in 1944 oorlede, toe Winnie slegs agt jaar oud was. Winnie kon egter nog steeds die laerskool in Bizana bywoon, en het haar hoërskoolloopbaan voltooi. Anders as baie ander swart kinders in Suid-Afrika in daardie tyd, het Winnie ordentlike onderwys gekry. Die wyd-betoogde Wet op Bantoe-onderwys is eers in 1953 geïmplementeer, toe sy reeds ouer was. Sy het aan Shawsbury in Qunu gematrikuleer, waar sy ook leierskapvaardighede aangeleer het. Terug by die huis het sy haar pa se nuwe vrou, Hilda Nophikela, ontmoet, wat haar en haar broers en susters met ope arms verwelkom het.

Winnie se Loopbaan as Maatskaplike Werkster

©Dr Peter Magubane
Op haar pa se aandrang het Winnie Transkei in 1953 verlaat om in Johannesburg 'n loopbaan in maatskaplike werk te begin. Sy het die Jan H. Hofmeyr-skool vir Maatskaplike Werk bygewoon. In 1955 gradueer sy as topstudent en word 'n beurs aangebied om in die VSA verder te studeer. Sy het dit egter geweier, en gekies om eerder maatskaplike werk in haar eie land te doen. Winnie het 'n mediese maatskaplike werk pos in Johannesburg se Baragwanath-hospitaal aanvaar, en sodoende die eerste gekwalifiseerde swart persoon geword wat die pos beklee het. Sy het naam vir haarself gemaak by die hospitaal, en koerante het oor haar storie van 'n beskeie begin na 'n suksesvolle loopbaan berig.

Ontmoeting met Nelson Mandela

©Eric Miller
Winnie het in die nasionale politiek en aktivisme begin belangstel terwyl sy by Baragwanath-hospitaal gewerk het, aangesien sy daar eerstehands die volslae armoede waarin die mense van die townships geleef het, gesien het. Haar navorsing oor kindersterftes in die Alexandra Township, waar 10 sterftes uit elke 1000 geboortes voorgekom het, het Winnie nóg meer bewus gemaak van die ongeregtighede in Suid-Afrika. Winnie het na maniere gesoek om hierdie ongeregtighede te verander, en was polities aktief selfs voordat sy haar toekomstige man, die beroemde politieke aktivis Nelson Mandela, ontmoet het.
Terwyl sy by die Baragwanath-hospitaal gewerk het, het Winnie in een van die hospitaal se personeel-losieshuise 'n kamer met Adelaide Tshukudu gedeel. Die twee het 'n hegte vriendskap opgebou. Hulle het gereeld tot laat in die nag gesels, en Adelaide het vir Winnie van haar verloofde vertel. Sy naam was Oliver Tambo (wat eendag die president van die ANC sou word), en hy was die regsvennoot van Nelson Mandela.
Winnie en Nelson het vir hulle eerste afspraak na 'n Indiese restaurant naby sy regskantoor gegaan. Hy was 16 jaar ouer as sy en reeds 'n prominente figuur in die nasionale politiek sowel as anti-apartheid aktivisme. Dit het egter nie vir Winnie afgeskrik of geïntimideer nie, en toe hy haar in 1957 vra om met hom te trou, het sy onmiddellik ja gesê. Hulle is in Junie 1958 getroud.

Translated by Rentia Pretorius