Wanneer is Wyndruiwe Ryp?

© Louise Brodie

Om die rypheidsgraad van wyndruiwe te bepaal word trosse en korrels getoets om die volgende faktore te bepaal: Suikerkonsentrasie Suurheid Kleur Geur pH Tydens korrel, sowel as trosmonsterneming moet daar gewaak word daarteen om net op een kol, waar suikerinhoud mag verskil van die res van die blok, monsters in te samel.

Normaalweg word hierdie taak net ná verkleuring en wanneer die korrels begin sag word, weekliks en later selfs elke tweede dag uitgevoer. Hierdie monsters word nou na ’n laboratorium geneem.

Die korrels word fyn gedruk, goed vermeng en die suikergraad, suurheid en pH word bepaal en opgeteken met die datum, bloknommer, en kultivar van elke monster. Die toename in rypheidsvlak kan gevolg word en ’n beraming van die oesdag kan so bepaal word.

Korrelmonsters

Twee tot drie korrels word onder, in die middel en aan die bokant van die tros gepluk, sonder om na die tros te kyk. Hierdie metode verhoed dat slegs ryp korrels uitgesoek word.

Dit is belangrik om ook korrels van trosse aan die binnekant en die buitekant van die stok, asook beide kante van die ry te pluk asook verder in die blok. So word daar ’n verteenwoordigende monster van die hele wingerd geneem.

Trosmonsters

Pluk heel trosse aan die binne en buitekant van die stok, aan die bokant sowel as aan die onderkant van die loot en aan beide kante van die ry. Soos by die korrelmonsters word daar nie na die trosse gekyk nie, om te verhoed dat slegs ryp trosse uitgesoek word. Hierdie trosse word in ’n houer gegooi en die proses word weer herhaal sodat die hele wingerd verteenwoordig word.

Translated by Marinda Louw