Verduideliking van die Samestelling van Bemestingstowwe

©Eric Miller
Bemestingstowwe is óf organies en afkomstig van natuurlike materiaal wat eens lewend was, óf dis ‘n sintetiese chemiese samestelling bestaande uit mikro-en makro nutriënte. Bemestingstowwe word toegedien as korrels of as vloeistowwe. Die voedingstowwe kan ook gespuit word op die blare van plante om groei te stimuleer of om voedingstowwe aan te vul.
Die drie vernaamste nutriënte wat deur ‘n plant benodig word is Stikstof (N), Fosfor (P) en Kalium (K).
Wanneer jy moet besluit op ‘n bemestingstof om te gebruik, sal hierdie drie nutriënte die vernaamste makro-nutriënte wees wat geïdentifiseer is in die resultate van die analise van jou grondmonsters. Bemestingstowwe word geformuleer in verskillende mengsels van hierdie drie makro-voedingstowwe en kan geïdentifiseer word deur die drie syfers wat op die sakke verskyn wat die NPK samestelling aandui van die kunsmis in die ratio van hul waarde in die mengsel. Byvoorbeeld, 2:3:4 (27) of 1:0:1 (36) sal die NPK waarde wees.

Beskrywing van NPK

NPK waardes op die kunsmis beskryf die persentasie van elk van hierdie voedingstowwe as ‘n ratio proporsioneel tot mekaar. Die syfer tussen hakies agter die ratios (bv. 27) is die persentasie van die totale mengsel wat slegs deur die drie makro-nutriënte, nl. N,P, en K verteenwoordig word.
Dus: In ‘n 100 kg sak 2:3:4 (27), beteken die (27) dat 27% van die sak, of 27 kg van die 100 kg bestaan uit suiwer N,P en K.
Die ratio bestaan uit 9 dele deur 2+3+4 bymekaar te tel en as jy dan 9 deur 27 deel, verteenwoordig elke deel van die ratio 3.
Daarom:
Die 2 vermenigvuldig met 3 is 6% Stikstof (N) of 6 kg
Die 3 is daarom 9% Fosfor (P) of 9 kg
Die 4 is daarom 12% Kalium (K) of 12 kg
Die orige 73 kg van die 100 kg kunsmis bestaan uit vuller-elemente wat dit makliker maak om die kunsmis te hanteer, draer-elemente wat die N,P en K meer beskikbaar maak vir plantwortels in die grond en ander spoorelemente soos koper, sink, boor, mangaan en magnesium wat deur die plant benut kan word.

Translated by Elna Van Rhyn