Velprobleme by Varke - Siektes

Greasy Pig Disease

©National Pork Board, USA
Greasy Pig Disease ook bekend as eksudatiewe epidermitis, word deur verskeie stamme van die Staph Hyicus bakterieë veroorsaak. Volgens ’n artikel van NADIS (National Animal Disease Information Service), Pig Health – Greasy Pig Disease, leef die bakterieë op die veloppervlak van varke, maar sal iets nodig hê om die siekte aan die gang te sit. Dit kan enigiets wees van skade aan die vel, ander siektes, ontlasting op die vel of hoë humiditeit vlakke wat ’n voglaag op die vark se vel agterlaat en waarin die bakterieë kan vermeerder.
Die siekte veroorsaak die voorkoms van ’n dik oranje, bruin tot swart vetterige stof op die vark se kop en lyf. Jonger varke, soos suigelinge en speenvarkies, word gewoonlik geaffekteer. Dit is veral dodelik in jong varkies, aangesien dit dehidrasie veroorsaak. By ouer varke kan dit wonde stadiger laat genees, wat weer lei tot besmettings by die abattoir.
Behandeling
Die gebruik van sjampoe of seep kan help om sommige van die bakterieë te verwyder en dood te maak, maar varke benodig gewoonlik antibiotika. Raadpleeg ’n veearts vir advies oor die korrekte antibiotika vir die spesifieke stam van bakterieë wat verantwoordelik is vir die siekte. Voorsien jong geaffekteerde varkies met genoeg water en elektroliete om dehidrasie te voorkom.
Om te verhoed dat die bakterieë versprei moet varke met Greasy Pig Disease apart aangehou word. Goeie higiëne moet beoefen word om die verspreiding van die bakterieë te bekamp. Om toekomstige uitbrake te voorkom moet die oorsaak van die infeksie ook aangespreek word. Daar moet vasgestel word of dit beserings aan die vel, ander siektes, onhigiëniese toestande of klimaatsomstandighede, wat dalk ’n oormaat vog op die vel agterlaat, is.

Diamantvelsiekte

Diamantvelsiekte (Diamond Skin Disease) of vleksiekte is ook bekend as Erisipilas. Dit word deur die Erysipelothrix rhusiopathiae bakterie, wat by die meeste varkboerderye voorkom, veroorsaak. Volgens die Pig Site se Quick Disease Guide het tot 50% van die diere hierdie bakterie in hulle mangels. Besmette mis is waarskynlik die hoofbron van die infeksie, maar dit kan ook deur urine en spoeg versprei word.
Diamantvelsiekte affekteer meestal jong varke. Alhoewel die spesifieke bakterie die siekte tot gevolg kan hê, kan ’n uitbraak ook deur ander siektes veroorsaak word. Diamantvelsiekte het ’n skielike aanvang en kan skielike sterftes as gevolg van akute septisemie of hartversaking veroorsaak. Die naam is afgelei van die donkerrooi diamantvormige kolle wat as gevolg van beperkte bloedtoevoer op die vark se vel veroorsaak word. Die areas kan later as gevolg van dooie weefsel swart word, maar die meeste herstel binne sewe tot tien dae.
Behalwe die diamantvormige kolle het geaffekteerde varke gewoonlik ’n hoë koors. In sôe lei dit dikwels tot aborsies, dooie geboortes en gemummifiseerde varkies, terwyl die bere onvrugbaar sal wees solank hulle aan die siekte ly.
Behandeling
Besmette varke moet met ’n langwerkende penisillien behandel word. Raadpleeg ’n veearts of dieregesondheid tegnikus vir aanbevelings oor watter produk om te gebruik en hoe om dit te gebruik. Daar is ’n entstof beskikbaar wat die siekte kan voorkom.
Om te verhoed dat die bakterieë versprei moet varke met diamantvelsiekte apart aangehou word. Goeie higiëne moet toegepas word om bakterieë te voorkom. Die oorsaak van die infeksie moet ook aangespreek word. Daar moet vasgestel word of dit beserings aan die vel, ander siektes of onhigiëniese toestande is.

Translated by Ananda Schoeman

Velprobleme by Varke - Eksterne Parasiete

Sommige van die uitwendige parasiete wat vel irritasie en produksieverlies by varke veroorsaak is myte, varkluise, bosluise en vlieë....more

Velprobleme by Varke - Nog Eksterne Parasiete

Sagte bosluise mag in krale, vlakvarkgate of huise bly, terwyl harde bosluise gewoonlik in weivelde voorkom. Bosluise kom snags uit en suig ...more

Velprobleme by Varke - Besering en Sonbrand

Volgens die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-Organisasie se Pigs for Profit handleiding het ’n gesonde vark ’n skoon, sagte vel met ’n e...more