Steenbok

© Roger de la Harpe

Naam

Steenbok [Raphicerus campestris]

Orde

Artiodactyla (Ewehoewiges)

Familie

Bovidae (Horingdraers)

Voorkoms

Die steenbok het ’n rooibruin lyf met lang, breë ore, ’n skouerhoogte van 520mm en weeg 11 – 13 kg. Die agterkwart en onderlyf is suiwer wit. Slegs ramme het 13 cm lange regop, dun horings wat bo die oë uitsteek (rekord is 19 cm). Opvallende swart gesig kliere is voor die groot donkerbruin oë geleë. Hierdie pre-orbitale kliere is opmerkbaar in beide geslagte.

Dieet

Die steenbok is uitsluitlik ’n tak-en blaarvreter en toon 'n voorkeur vir kruidagtige plante. Dit eet oor die algemeen groen materiaal soos jong blare, blomme, vrugte en spruite van verskillende plante. Die vermoë om onafhanklik van vrye water te bestaan, hou verband met sy selektiewe kosvoorkeure.
Wortels, knolle en bolle word gedurende droë maande geëet deur in die grond te grawe en daar word selfs skouerhoogte diep gegrawe om hierdie voedsame kos wat ’n hoë voginhoud het te bereik.

Voortplanting

Die paarseisoen is nog nie duidelik gedefinieer nie. Geboortes die hele jaar deur is opgeteken. ’n Enkele lam wat 1 kg weeg word na ’n dratyd van sewe maande gebore. Lammers word vir die eerste drie tot vier maande weggesteek, waartydens die ooi slegs vroegoggend en aand na die lam toe kom om dit te voed en te versorg.
Om die lam se teenwoordigheid te verberg, eet en drink die ooi haar lam se mis en urine tydens haar besoeke. Dit hou die wegsteekplek relatief reuk vry en beskermend teen roofdiere. Die lam is seksueel volwasse op 6 maande.

Sosiale Gedrag

Ramme en ooie deel en verdedig ’n gebied. Hulle is meestal alleenlopend. Ramme sal hulle gebiede met urine en afskeidings van die klier onder die ken afbaken, asook met mis. Die steenbok is die enigste boksoort wat die grond voor en na die urinering en ontlasting skraap. Die ramme is bekend daarvoor om paaie en telefoonlyne as grense vir hulle gebiede te gebruik. Die steenbok het ’n uitstekende gehoor.
Dit is opgeteken dat die steenbok vleis aas en ook baba voëltjies van grondlewende voëls doodmaak, maar dit is slegs ten tye van ’n ernstige kosskaarste.

Habitat

Die steenbok bly op oop savanne veld waar hulle staatmaak op voldoende dekking in die vorm van langer gras en bosse. Afwesig of selde gesien in woude, berge, digte bosse en rotsagtige gebiede. Soms skuil hulle in erdvarkgate en gebruik dit om aan hulle lammers geboorte te gee.

Verspreiding

Waarskynlik die mees algemeenste wildsbok wat in Suid Afrika voorkom. Wyd versprei regoor die land en word beskou as ’n algemene spesie.

Natuurlike Vyand

Luiperd, Rooikat, Wildehond, Jagluiperd, Hiëna, Luislang en die Breëkoparend.

Spoor Beskrywing

Die spoor lyk amper dieselfde as die Oribi s’n. Die hoef is net wyer en meer reguit en selfs ’n bietjie groter.