Soetrissie

© Louise Brodie

Wetenskaplike naam: Capsicum Annuum

Plant Beskrywing

Soetrissie het groen ovaalvormige blare wat tot ’n punt vernou. Die soetrissie vrek gewoonlik na dit vrugte gedra het. Daar is groen, rooi, geel, wit, pers, bruin en oranje soetrissie variëteite. Jy kry kegelvormige, klokvormige, vandaar die Engelse naam “bell peper” en selfs kleiner kersieagtige soetrissies.
Die hedendaagse variëteite kan teruggesnoei word en nuwe stingels, blare, en blomme produseer om voortdurend nuwe vrugte voort te bring. Dit word hoofsaaklik in kweekhuise of warmer klimate aangeplant om ’n langer produksie periode te hê.

Gebruike

Soetrissie word gebruik om geur en smaak aan disse te verleen. Dit kan ook rou in slaai geëet word of gerooster, gevul en gebak. Daar word beweer dat dit drie keer meer vitamien C as ’n lemoen bevat.

Grondvereistes en Voorbereiding

Soetrissie gedy in vrugbare sanderige leemgrond wat goed dreineer. Die wortels is in die boonste 30 cm grond geleë en die plant is dus sensitief vir droogte of te veel water. Die besproeiing moet derhalwe baie goed beheer word. Indien die grond nie humusryk is nie moet kompos of organiese materiaal voor aanplanting in die grond ingemeng word. ’n Neutrale pH is ideaal, maar ’n meting van 6.2 – 7 is aanvaarbaar.

Klimaat

Soetrissie is ’n warm klimaatstoestand gewas wat sensitief is vir koue en ryp. Die groei word by temperature onder 15°C vertraag. Die plant gedy as die temperatuur tussen 20°C en 30°C is. Sodra die soetrissies begin ryp word is ’n droë klimaat sonder reën verkieslik, aangesien reën die groei van fungus bevorder en besproeiing probleme veroorsaak.

Kultivars

Daar is honderde kultivars wat die volgende insluit: California Wonder, King of the North, Jupiter, Pip, Chocolate Beauty, Keystone, Florida, Banana, Marconi Red, Ballito Sweet Golden, Cape Medallion Cherry en King Arthur. Daar word voortdurend nuwe kruisings ontwikkel en vrygestel wat unieke eienskappe en ’n beter weerstand teen peste en siektes het. Dit is egter raadsaam om jou plaaslike landboukundige oor die beste kultivars vir jou spesifieke klimaat en grondtipe te raadpleeg.

Translated by Ananda Schoeman