Monitering van 'n Hopplant

© Chris Daly
‘n Tydjie nadat jy jou hoprisome geplant het, sal ranke uit die grond verskyn. Hop groei deur middel van ranke (onderskeibaar van rankplante deurdat hulle oprank deur middel van hul ranke en nie gebruik maak van hegranke of suiers nie) wat opgelei moet word in ‘n vertikale spasie. Sodra die ranke aan ‘n prieël vasgemaak is, sal hulle vanself aanhou om antikloksgewys verder te rank. Vier tot ses gesonde ranke behoort uit elke risoom te groei.
Hou jou plant dop om seker te maak daar is nie beskadigede of swak uitlopers nie. Moenie toelaat dat die ranke verstrengel raak nie omdat dit verdrukking en moontlike skaduweeskade en besmettings kan veroorsaak. Ondersoek blare gereeld vir witroes en wees ook op die uitkyk vir peste soos plantluise.
Kyk na die grond rondom jou plant en verwyder enigiets soos onkruid wat gesonde groei van jou plant kan belemmer. Jy moet ook die grond klam hou. Wees egter versigtig om nie jou plant te veel water te gee nie. Gee in die oggend water sodat die blare kan droog word gedurende die dag. Jy hoef slegs af en toe te kyk vir droogheid.
Monitering van jou plant is belangrik omdat dit makliker is om probleme te hanteer wat vroeg raakgesien is.

Hoe om 'n Hopplant te Versorg

©Chris Daly
Sodra ranke uit die grond verskyn is dit tyd om na jou plant te begin kyk. Ranke is gereed om opgelei te word wanneer hulle 15 cm lank is. Hulle kan ogelei word deur hulle versigtig rondom ‘n prieël of hoptou te draai. Dit moet vir ‘n paar dae lank gedoen word. Daarna sal die ranke self antikloksgewys begin rank en hoef hulle slegs gereeld gemonitor te word.
Soos die plant groei, is dit belangrik om enige swak of beskadigde uitlopers te verwyder. Nadat die hop vir ‘n paar maande gegroei het, is dit ‘n goeie idee om die blare aan die onderste 60 cm van die plant af te sny om beskadiging deur siekte en fungus te voorkom. Jy kan jou plant af en toe natmaak en bemes, afhangende van wat nodig is. Verwyder alle onkruid en vullis uit die grond rondom jou plant.
As jy witroes aan die onderkant van sommige blare gewaar, moet jy hulle onmiddellik afknip en vernietig buite jou erf. Jy kan ‘n natuurlike insekdoder gebruik om plantluise en ander peste te beheer wat jou oes bedreig.
Sorg konstant vir jou plant totdat die hop gereed is om in die laatsomer geoes te word.

Die Oes van Hop

©Chris Daly
Die tyd om jou hop te oes sal varieer, afhangende van jou ligging en die seisoen, hoewel oestyd in Suid-Afika gewoonlik in die somer is. Kyk na die blare van jou plante as aanduiding van wanneer hulle gereed is om geoes te word.

Sodra die blare van die hopkeël begin bruin en papieragtig op die rande word, is die hop gereed om geoes te word. Om seker te maak kan jy die keël oopbreek. Die lupulin kliere in die middel behoort taai en geel te wees. Pluk die hop wat ryp is en los die ander. Maak seker jy oes nie die hop voordat dit ryp is nie want dit sal hulle sterkte en die bier se geur nadelig beïnvloed.

Om die hop te pluk, moet die keëls versigtig afgedraai word van hul stingeltjies.

Die Droogmaak van Hops vir Gebruik

©Chris Daly
Sodra jy jou hop geoes het, moet jy dit droogmaak vir verdere gebruik. Plaas die ryp hop op ‘n plat oppervlakte. Maak seker dat hulle slegs in ‘n enkele laag lê en nie in die sonlig is nie. Soos hulle uitdroog, moet jy hulle van tyd tot tyd omdraai om seker te maak dat hulle egalig aan alle kante uitdroog. Hierdie proses moet aanhou totdat die hop heeltemal droog is – wanneer die binekant droog genoeg is om te breek en nie te buig nie. Die gedroogde hop kan nou geberg word in ‘n lugdigte houer in die vrieskas totdat jy dit nodig het.

Ander Gebruike vir Hop benewens Brou van Bier

©Chris Daly
Dis algemeen bekend dat hop gebruik word in die brou van bier, maar dit kan egter ook vir ander doeleindes aangewend word.

Hop word gebruik in verskeie boeremedisynes en natuurlike remedies om slaaploosheid en angstigheid te verlig en spysvertering aan te help. Navorsing word gedoen om te bepaal of dit gebruik kan word om menstruasieprobleme en menopousesimptome te verlig.

Hop word soms as ‘n bestanddeel in ‘n verskeidenheid kosresepte en natuurlike deodorante gebruik en kan selfs verpulp word om ‘n eenvoudige papier te produseer.

Translated by Elna Van Rhyn