Ouma Stories – Impak Van MIV/Vigs Op Families

Felicia Mfamana het verskeie familielede aan HIV/Vigs verloor, insluitend haar seun, kleinseun, en dogter. Sy deel haar pyn en vertel hoe sy geleer het om dit te hanteer met behulp van haar vriende by die GAPA groep.

Familiesterftes

©Eric Miller

Ek het altesaam sewe kinders gehad, vyf dogters en twee seuns. My dogter Nonkosi en my kleinseun Mihlali het by my gewoon sedert sy geboort twee jaar tevore. Ek was soos ‘n ma vir hom en het hom baie liefgehad. Om vyfuur die oggend het hy begin huil en ek het hom probeer troos. Toe hy kalmeer het, het ek hom weer neergelê om te slaap en ek het die taxi gehaal na Pinelands in Kaapstad.

Maar by my terugkoms, was hy stil en het nie reageer nie. Hy was dood. Ek het my buurman, ‘n goeie man, Peter Nqoboka, geroep. Hy het Mihlali se pols gevoel en gesê: ‘Hy is weg.’ Hy en sy vrou het saam met my gesit en bid. Toe Nonkosi ‘n rukkie later kom, kon ek dit nie oor my hart kry om vir haar te sê nie.

Sy het na hom toe gegaan en gesê: ‘Ma, Mihlali is baie koud.’ Toe, natuurlik, moes ek haar sê hoekom. Mihlali is MIV positief gebore, maar ek het niks van MIV geweet nie en kon nie verstaan waarom hy siek geword het nie. ‘n Rukkie na Mihlali se dood het my oudste dogter, Nomanani, my van die Transkei af gebel om te sê dat Nonkosi – Mihlali sa ma – ‘n slegte verkoue gehad het en nie behoorlik kon eet nie.

Nonkosi het gesê dat sy positief was, maar ek het steeds nie geweet wat dié ‘positief’ beteken nie. Sy het Kaapstad toe gekom vir behandeling, maar daarna gesê sy wou teruggaan huis toe. Ek het gedink sy is aan die beter word en wou nie in haar pad staan nie, so toe gaan sy. Ek was so, so jammer toe sy sterf in die Transkei. My ander dogter, Noxolo, het ook aan MIV gesterf.

Phikolomzi Mfamana

©Eric Miller

Toe die vrou van my oudste seun, Phikolomzi, vir my skryf dat hy TB het, het ek Transkei toe gegaan om te gaan kyk hoe dit met hom gaan. Hy was baie maer en het selfs hulp nodig gehad om op te staan. Hy kon een van sy arms nie gebruik nie omdat hy ‘n beroerte gehad het, en om ‘n rede wat ek nooit begyp het nie, kon hy glad nie praat nie.

Ek het daar gebly vir Julie en Augustus en het teruggekom Kaapstad toe in September. Dit was die maand wat hy gesterf het. Daardie jare, die jare toe my kinders en my kleinseun gesterf het, was verskriklike jare vir my.

Ek gaan na die GAPA

©Eric Miller

Aanvanklik, toe ek na die Grandmothers Against Poverty and Aids begin gaan het, het ek gehuil en gehuil omdat ek net gedink het aan dit wat gebeur het met my twee dogters, my kleinseun en my seun. Die ander oumas verstaan, want dieselfde het met hulle gebeur.

Ons bid saam daar en God help om ons te kalmeer oor die heengaan van ons kinders. Sedert ek na GAPA toe begin gaan het, besef ek Vigs is ‘n siekte vir almal, nie net ons families nie. Dan voel ons sterk en is dankbaar dat ons gesond is. Ek gaan Dinsdae na GAPA vir die dansklas. Ons eet ontbyt en drink tee voor die dansklas.

Daarna eet ons middagete. Dan brei en hekel ons en doen kralewerk. Op Woensdae is daar ‘n ondersteuningsgroep in Mev Mbedla se huis, in ons straat. Sewentien oumas kom, van Seksies A,B,C en D in Khayelitsha. Daar is so baie gogo’s hier wat GAPA nodig het. Ek het al selfs in ons kerk opgestaan en die ander oumas aangemoedig om na GAPA toe te kom, want dit help ons so baie.

Translated by Elna Van Rhyn