Ouma Stories – Om Geliefdes Af Te Staan Aan MIV/Vigs

© Eric Miller
Goldie Qyayia en haar man, Otto, van Khayelitsha, het nie veel verstaan van die MIV/Vigs virus nie. Nogtans het dit die lewens geëis van twee van hulle kinders, Thumela en Vusi, na nog ‘n seun. Dit het lank geduur, maar Goldie het uiteindelik ‘n manier gevind om haar smart te hanteer.

‘n Harde Werker

Ek het gewerk as ‘n skoonmaker vir die mense wat Blouberg Homes, ‘n agentskap wat huise verhuur het in Bloubergrant, bedryf het. Vir vyf jaar het ek daar gewerk terwyl ek in ons huis in Khayelitsha gewoon het en my man na ons huis in die Transkei gekyk het. Thumela het my altyd gehelp by Blouberg Homes en was so ‘n harde werker.

As ons mevrou gesê het: ‘Maak alles skoon en stryk al die lakens,’ was ons ure voor die tyd al klaar, selfs al was dit ‘n baie groot huis. Thumela was nie bang vir harde werk nie. In Junie 2000, toe sy 30 was, het ons saam na die daghospitaal gegaan omdat sy begin siek word het, en sy het ‘n MIV toets laat doen.

Ons het steeds nie presies verstaan hoe hierdie MIV ‘n persoon affekteer nie. Ons het al daardie dinge geleer soos die tyd aangestap het, want die toets het gewys dat Thumela ook MIV positief was. Net minder as twee jaar nadat sy gediagnoseer is, het sy begin om baie siek te word. Toe sy die vierde fase bereik het was sy so maer en swak dat dit duidelik was dat sy besig was om te sterf.

Dit het net ‘n maand geduur vandat sy baie siek geword het, totdat sy gesterf het. Ek het haar gewas, medisyne gegee en gevoer want sy was selfs te swak om ‘n lepel op te tel. Dit is ‘n bitter moeilike ding om jou eie sterwende kind te verpleeg.

Toe dinge baie sleg gegaan het, het ons haar Groote Schuur Hospitaal toe geneem, en toe, nadat die dokters gesê het dat sy binnekort sou sterf, na die hospice by die Conradie Hospitaal. Sy was twee weke daar voordat sy in Maart 2002 oorlede is.

Ek was daar

Otto en ek was in Kaapstad toe Vusi skielik baie verkoue, ‘n seer maag en geweldige hoofpyne begin kry het. Ons het hom Groote Schuur Hospitaal toe geneem en toe na GF Jooste Hospitaal. Die dokter het ons vertel dat hy MIV het, hoewel ons nie verstaan het wat dit impliseer het nie.

Die dokter het aanhou praat van ‘n nuwe behandeling wat op pad was wat vir Vusi sou help. Vusi het pille en behandeling gekry vir TB en vir ‘n rukkie het dit beter gegaan. Hy het selfs teruggegaan werk toe. Maar ses maande later het hy weer siek geword. Ek het hom versorg en was langs sy bed toe hy gesterf het.

Translated by Elna Van Rhyn