Draakvrugte - Gebruike en Voordele

© Pete Birkinshaw

Die reuse geskubde vrugte van die draakvrugte is geweldig gewild in Asië en tel onder die 5 gewildste vrugte naas lietsjies en piesangs. Die draakvrugte word bewonder weens sy vorm en kleur in China. Hierdie gesonde, lae-energie vrugte is veelsydig en voedsaam, maklik om te skil en uitstekend om vars te eet as dit effens verkoel is. 

Produsente soos Amorentia Estate & Nursery in Limpopo is besig met ‘n proses om kleinhandelaars en verbruikers in te lig oor die voordele van draakvrugte uit Suid-Afrika.

Gebruike van Draakvrugte

©Fairie Anne Acebedo-Domingo

Draakvrugte word hoofsaaklik gekweek vir die varsvrugte mark en word dikwels verkoop op boeremarkte in Suid-Afrika. Die vrugte kan ook geprosesseer word in waardetoegevoegde produkte soos gedroogde vrugterolle, vrugtestafies, roomys, sappe, tertjies, as vrugtepulp en in joghurt. Die sap van die rooi variëteite kan ook aangewend word as ‘n natuurlike kleursel. Die geur van draakvrugte word ook gebruik in kruietee, water en vodka en van die vrugte word wyn gemaak.

Die ongeopende vrugteknoppe kan gekook en geëet word as ‘n groente terwyl die blomblare op kookwater getrek en as ‘n tee geniet kan word.

Die plant word oral gebruik as ‘n ornamentele plant in tuine en as ‘n ranker om heinings te verberg.

Die Universiteit van Pretoria doen navorsing op die gebruik van Draakvrugtevrugte-ekstrakte in skoonheidsprodukte. Daar is gevind dat die sap eienskappe soortgelyk aan dié van Aloe ferox mag hê en moontlik tien keer meer. Eienskappe van draakvrugte-ekstrak sluit in bevogtiging, teen-veroudering, ferm maak van die vel en stimulasie van kollageensintese.

Die skil van die Draakvrugtevrug maak 22% van die totale gewig daarvan, maar word hoofsaaklik weggegooi. Die skil van die Draakvrugtevrug bevat waardevolle  voedingstowwe soos anthocyanins – ‘n kragtige antioksidant. Draakvrugte vrugteskille kan op ‘n verskeidenheid wyses gebruik word: in dun repe gesny en in sesame-olie gebraai of om tee van te maak. Poeier gemaak van draakvrugtevrugteskille is getoets in proewe waarin dit die bloedvetvlakke van muise beïnvloed het. In die Filippyne is die poeier gebruik om pienk noedels te maak.

Voordele van Draakvrugte

Die gesondheidsvoordele van draakvrugte is toe te skryf aan die antioksiderende, antibakteriese en voedingstofeienskappe daarvan wat help om immuniteit aan te wakker weens hoë vlakke van vitamiene C, en metabolisme en die spysverteringsproses te versnel. Oligosaggariede teenwoordig in die Draakvrugtevrugte mag help om probiotiese bakterieë in die maag en ingewande te stimuleer.

Veselryke draakvrugte kan help om bloedsuiker te reguleer en kan dus nuttig wees in die diëte van diabete. Die vrugte bevat ook baie oksidante en vitamienes B1, B2 en B3, poli-onversadigde vetsure, karoteen, proteïene, kalsium, kalium, yster en fosfor. Die saad bevat omega-3 vetsure.

Die stingels en blomme van die draakvrugte word gebruik in die behandeling van diabetes, as ‘n diuretikum en om wondgenesing aan te help. Daarbenewens het die vrugte ‘n voorkomende effek op kardiovaskulêre siekte.

Let wel:
Inligting is slegs bedoel vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes en moet nie gesien word as mediese advies nie. Die inligting moet nie mediese advies of behandeling van gesondheidsorgspesialiste vervang nie.

Translated by Elna Van Rhyn