Desmond Tutu se Werk Buite Suid-Afrika

Onderwys

©Eric Miller

Desmond Tutu wou altyd ’n dokter word, maar hy kon nie befondsing vir mediese skool kry nie en het toe ’n loopbaan in onderwys gekies. Hy het in 1951 by die Bantoe Normaalkollege begin studeer. Hy was baie by studentesake betrokke en het gehelp om die Geletterdheids- en Drama Genootskap te organiseer.

Hy was die voorsitter van die Kultuur- en Debatsvereniging en die tesourier van die Verteenwoordigende Studenteraad. Hy het ook vyf korrespondensiekursusse aan die Universiteit van Suid-Afrika voltooi. Hy het in 1954 sy Onderwysdiploma ontvang en in 1955 sy BA-graad. Tutu het ook in 1955 sy loopbaan as ’n hoërskoolonderwyser begin. Hier het hy vir die eerste keer met die Wet op Bantoe-onderwys, wat in 1953 geïmplementeer is, te doen gekry.

Onder hierdie Wet het swart studente slegs ’n basiese onderwys, wat hulle toekomsvooruitsigte beperk het, gekry. Tutu was woedend hieroor en het uiteindelik in protes hierteen onderwys verlaat.

Teologiese Studies

Tutu het in 1958 by die Teologiese Kollege van St Peter ingeskryf. Hier het hy die Bybel, Anglikaanse leerstellings en Christelike Etiek bestudeer. Hy was bekend as buitengewoon intelligent en ywerig maar nederig.

Met sy opstel oor die Christendom en Islam het hy die aartsbiskop se jaarlikse opstel prys gewen. Alhoewel politieke spanning in Suid-Afrika toegeneem het soos die anti-apartheidstryd uitgebrei het, het Tutu grootliks apolities gebly.

Hy het ’n Lisensiaat in Teologie verwerf en is in 1960 as priester georden. Tutu het in 1962 na die Verenigde Koninkryk verhuis om sy teologiese studies aan King’s College in Londen voort te sit. Die tyd wat Tutu in Londen deurgebring het, het hom ’n bietjie van die onderdrukking waarmee hy in sy vaderland gekonfronteer is laat ontsnap.

Hy het ander belangstellings soos krieket, waarvoor hy baie lief geword het, nagevolg. Hy het sy studies daar voltooi en ’n Honneurs asook Meestersgraad in Teologie ontvang. Sy tesis het oor die Islam in Wes-Afrika gehandel.

Tutu het weer in 1966 na Suid-Afrika toe teruggekeer. Voor sy terugkoms het hy Parys, Rome en uiteindelik Oos-Jerusalem, waar hy twee maande lank Hebreeus en Arabies bestudeer het, besoek. Hy was geskok oor die spanning tussen die Jode en Arabiere.

Kennismaking met Swart Teologie

©Eric Miller

Tutu het na sy terugkoms gesukkel om by ’n samelewing wat onderhewig was aan apartheid en paswette aan te pas. Nietemin het hy sy werk aan die gang gehou en probeer om die buitewêreld bewus te maak van die toestand van arm Suid-Afrikaners. Hy het by die Federale Teologiese Seminarie (Fedsem) by Alice in die Oos-Kaap opleiding gegee voordat hy in 1970 vir die Universiteit van Botswana, Lesotho en Swaziland (UBLS) gewerk het.

Terwyl hy in Lesotho gewoon het was hy ’n eksterne eksaminator vir Fedsem en Rhodes Universiteit. Hy het ook by die uitvoerende raad van die Lesotho-Ekumeniese Vereniging aangesluit. Dit was hier wat hy met Swart Teologie kennis gemaak het en geïnspireer is om dit met Afrika-teologie te versmelt en in die Suid-Afrikaanse konteks waarmee hy so bekend was toe te pas.

Werk vir die Teologiese Onderwysfonds

Tutu het in 1972 weer na Engeland verhuis om te werk. Hy is deur die Teologiese Onderwysfonds as mede-direkteur vir Afrika aangestel.

Hierdie posisie het hom die geleentheid gegee om Derdewêreldse Lande, insluitend baie Afrikalande, te besoek. Hy het oor sy ervarings daar geskryf en van die korrupsie en armoede in Zaïre, die Christelike-Moslem-interaksie in Nigerië, die indrukwekkende Keniaanse regering onder Jomo Kenyatta asook die uitdrywing van die Ugandese Asiërs onder Idi Amin, vertel. Tutu het vir drie jaar by die Teologiese Onderwysfonds gewerk en in 1975 na Suid-Afrika teruggekeer.

Hy is as Dekaan van die St Mary’s Katedraal in Johannesburg aangestel en was die eerste swart Anglikaanse Dekaan. Hy was ook vanaf 1976 tot 1978 die Biskop van Lesotho en toe die eerste swart Hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke.

Internasionale Betrokkenheid

©Roger de la Harpe

Desmond Tutu word die meeste vir sy bydrae tot die bevryding in Suid-Afrika onthou, maar hy was ook baie betrokke by internasionale aangeleenthede, insluitend die volgende: Hy het in 1987 die hooftoespraak by die All Africa Conference of Churches (AACC) in Togo gegee.

Hy het oor die lot van die onderdruktes in Afrika gepraat en die kerke versoek om te help waar hulle kan. Hy is later as president van die AACC verkies. Tutu het in 1988 by die Lambeth-konferensie ’n toespraak gehou en vir ’n oplossing vir die konflik in Noord-Ierland gevra.

Hy het in 1989 Zaïre (nou die Demokratiese Republiek van die Kongo) besoek en kerke aangemoedig om hulleself van die outokratiese regering te distansieer. Hy het in 1989 homself oor die Israeli-Palestynse konflik uitgespreek. Hy het gesê dat Israel ’n reg het tot territoriale integriteit en veiligheid teen die aanvalle van diegene wat sy reg om te bestaan wou ontken.

Hy het hierdie situasie met die apartheidsregime in Suid-Afrika vergelyk. Hy het in 1994 Liberië besoek om namens die AACC ’n wapenstilstand te versoek. Hy is in 1995 deur Nelson Mandela na Nigerië gestuur om die vrylating van politieke gevangenes te versoek. Hy het later daardie jaar, na die volksmoord, Rwanda besoek om te preek en ’n oproep vir geregtigheid te doen.

Translated by Ananda Schoeman