Desmond Tutu: Die Man Agter die Legende

’n Man met Vele Fasette

©Eric Miller
Desmond Tutu is as ’n man met vele fasette en teenstrydighede beskryf. Die mense waarmee hy in 1960 gedurende sy studie in Engeland mee te doen gekry het, was geskok oor sy gelyktydige Afrika warmte en gebrek aan inhibisie. Hy het egter gou geliefd geword onder hulle, ’n vermoë wat hy sy hele lewe deur gehad het. Hy is bekend as ’n sensitiewe, passievolle siel, iets waaroor sy vrou hom dikwels geterg het. Hy het ’n seldsame eerlikheid en sagte geaardheid. Hy gee om vir mense en daar word gesê dat hy nie vinnig kwaad raak en iemand opsetlik sal seermaak nie. Tutu is ook bekend as hardwerkend en hoogs intelligent.

Hy is ’n vriendelike man en passievol oor die handhawing van Afrika-tradisies en –waardes. Hy gee aandag aan mense, maak seker hy groet hulle, onthou belangrike datums soos verjaarsdae, bedank hulle altyd, is altyd op tyd en skinder nooit nie. Gedurende sy tyd as ’n priester het hy moeite gedoen om sy kerk se lidmate te besoek.

Tutu praat Engels, Xhosa, Zoeloe, Sotho en Tswana. Hy is welsprekend en is dikwels vir sy geestelike en boeiende openbare toesprake geprys. Hy kry sy taalgebruik en vermoë om ’n goeie storie te vertel van sy liefde vir lees en literatuur. Hy geniet ook sport en klassieke musiek.

Tutu ondersteun die Ubuntu konsep met die reënboognasie term. Hy definieer Ubuntu as: “saggeaardheid, medelye, gasvryheid, oopheid teenoor ander, kwesbaarheid, beskikbaarheid vir ander en die wete dat jy saam met hulle in die lewe verbind is”. Om sy siening oor Ubuntu te illustreer is hy ten gunste van die Xhosa gesegde: “’n mens is ’n mens deur ander mense”.

’n Voorstander vir Swart Teologie

Tutu beskryf homself as ’n sosialis. Hy glo dat die “sterkste oorwin” benadering van kapitalisme die slegste in mense na vore bring. Ten spyte van sy sosialistiese ideale is hy krities teenoor die Marxisme-Leninisme vorm van sosialisme wat kommunisme en ateïsme bevorder het. Hy vergelyk die manier waarop Marxistiese regerings hulle landgenote behandel as dieselfde waarop die Nasionale Party Suid-Afrikaners behandel het. In stede daarvan is hy ’n voorstander van Swart Teologie en Afrika-teologie en wil die die twee leerstellings van Christelike teologiese denke laat saamsmelt. Hy staan vir die verwerping van die idee dat Westerse waardes beter beskou word as Afrika-waardes. Hy bevorder die idee van ’n onderliggende eenheid van Afrikane.

“Almal van ons is aan Moeder Afrika deur onsigbare maar hardnekkige bande verbind. Sy het die diepste dinge in ons swartes gekoester.” – Desmond Tutu

Om sy ideologiese sienings te deel het Tutu van preke en toesprake in plaas van akademiese opstelle gehou. Hy is veral geïnteresseerd in vrae wat deur die Afrika-Christendom gestel word soos hoe om die uitlewing van Christelike geloof met die Afrika-uitlewing daarvan te vervang en menslike bevryding. Hy is krities oor die Afrika-teologie se tekortkominge in die aanspreek van kontemporêre sosiale probleme en stel voor dat dit in hierdie verband uit die Swart Teologie moet leer.

Christelike Benadering

©Eric Miller
Sedert kindsbeen is Tutu ’n Christen en toegewy aan die godsdiens se ideale en praktyke. Hy was tot Anglikanisme aangetrokke omdat hy gedink het dat dit verdraagsaamheid en inklusiwiteit bevorder, asook om redenering saam met godsdienstige Skrifte en tradisie te gebruik. Daar word beweer dat sy benadering tot die politiek direk met sy christenskap verband hou omdat hy glo dat dit ’n Christen se plig is om teen onregverdigheid te wees. Hy beweer dat daar geen skeiding tussen godsdiens en politiek kan wees nie aangesien daar geen skeiding tussen die geestelike en fisiese ryk is nie. Desondanks beweer hy ook dat hy nie ’n politikus is nie en probeer dit vermy om met enige politieke party vereenselwig te word. Hy het in 1980 die voorstel dat hy ’n politieke amp moet opneem verwerp.

In sy teenkanting teen die apartheidsregering was Tutu se benadering die van demokrasie, menseregte, verdraagsaamheid en die bevordering van kommunikasie en tegemoetkoming tussen vyande. Hy het homself openlik uitgespreek teen apartheid en het die etos van die Nasionale Party met dié van die Duitse Nazi-party en selfs die apartheidsbeleid met die Holocaust vergelyk. Hy het vir rassegelykheid gestaan en apartheid boos genoem. Hy het die Nasionale Party gekritiseer en gesê hulle probeer stadig maar seker die swart bevolking uitwis.

Medelye en Vergifnis

Alhoewel Tutu teen wit heerskappy gekant was, was hy nooit teen wit mense nie en het van al die positiewe ervarings wat hy met wit mense in beide Suid-Afrika en die buiteland gehad het, gepraat. Hy het van die versoening tussen die verskillende rasse van Suid-Afrika, nadat apartheid heeltemal afgeskaf is en alle Suid-Afrikaners gelyke regte ontvang het, gedroom. Hy het na sy saak as die wenkant verwys en het aan wit gehore gesê dat as die onderdrukkende regering omvergewerp word, swart mense sal onthou wie hulle vriende was.

Met openbare gebede het Tutu nooit vergeet om diegene wat die apartheid sisteem handhaaf saam met die slagoffers te noem nie. Sy rede hiervoor was die oortuiging dat die skuldiges van die apartheidsmisdade nie een of ander soort demoon was nie, maar gewone mense wat verdien om medelye te hê.

Tydens sy werk vir die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) het Tutu ’n Christelike versoeningsmodel voorgestel. Hy het geglo dat diegene wat by die apartheidstryd betrokke was berou moes hê, volle verantwoordelikheid vir hulle dade moes neem en gereed wees om die gevolge te aanvaar. Die slagoffers moes barmhartig optree en vrygewig wees met hulle vergifnis.

Kritiek teen Leiers

Tutu het die moed gehad om vrylik oor omstrede kwessies te praat, maar sy aktivisme was nie gewelddadig nie. Hy het nooit met geweld gedreig nie en was versigtig om dit nie te onderskryf nie. Hy het beide die apartheidsregering en anti-apartheidsgroepe gekritiseer vir die gebruik van geweld om hulle doelwitte te bereik. In plaas daarvan het hy voorgestel dat buitelandse ekonomiese druk op Suid-Afrika geplaas word, alhoewel hy daaroor kritiek gekry het. Daar is gesê het dat hierdie maatreël nadelig ten koste van die alreeds arm swart Suid-Afrikaners sou wees.

Desmond Tutu het nie teruggestaan in sy kritiek teen die leiers wat hy gevoel het immoreel optree nie. Hy het homself teen die swart leiers van die Bantoestan uitgespreek. Hy het gesê dat hulle korrup is en ten koste van die mense waarvoor hulle verantwoordelik is net na hulle eie persoonlike belange omsien. Tutu het die Westerse politieke leiers gekritiseer vir die handhawing van bande met Suid-Afrika. Hy het gesê dat hulle ondersteuning van die rassistiese beleid rassisme van hulle kant af was.

Reaksie op Tutu

©Eric Miller
Die reaksie op Desmond Tutu was deur die jare verskillend. Vandag is hy een van die mees gerespekteerde godsdienstige leiers van Suid-Afrika, maar in die 1970’s en 1980’s was hy of ’n baie geliefde persoon of baie gehate persoon. Vir baie swart Suid-Afrikaners het hy swart prestasie gesimboliseer en as ’n stem vir die stemlose gedien. Ander het hom weer gekritiseer omdat hy namens hulle praat sonder om die gemeenskapsleiers te raadpleeg en dat hy te sag is met wit mense.

Baie konserwatiewe wit Suid-Afrikaners was ontstoke oor sy oproep tot ekonomiese sanksies teen die land en het hom daarvan beskuldig dat hy ’n instrument van kommunistiese doelwitte was wat geweld sou aanhits. Die apartheidsregering het hulle bes gedoen om hom te diskrediteer met hulle veldtogte wat sy woorde gemanipuleer het om sy publieke beeld te ontwrig.

Translated by Ananda Schoeman