Cape Hare
Vlakhaas

© Nigel J Dennis

Naam

Vlakhaas [Lepus capensis] Daar is twaalf subspesies van die vlakhaas in Afrika.

Voorkoms

Die wyfie vlakhaas is effens groter as die mannetjie. Hul massa wissel van 1,5 tot 2,5 kg. Die pels is ʼn blekerige bruin-grys. Die lang ore en swart-en-wit stert is die opvallendste wanneer hulle vlug. Die vlakhaas word onderskei van die kolhaas deurdat hulle kleiner is asook die afwesigheid van ʼn suiwer wit onderkant.

Dieet

Afhangende van die beskikbaarheid van gras of struike kan die vlakhaas óf ‘n grasvreter óf n blaarvreter wees. Hase lê en vreet bedags sagte kuttels direk vanaf hul anus, en skei harde kuttels uit tydens nagtelike voeding.

Voortplanting

Die vlakhaas is 'n nie-seisoenale teler wat regdeur die jaar geboorte gee, hoewel geboortes in die reënseisoen meer volop is. Een tot drie kleintjies word gebore na 'n dragtigheidsperiode van 42 dae. Kleintjies is ten volle ontwikkel en weeg 100 gram by geboorte. Die oë is by geboorte oop en die pasgeborenes kan binne 48 uur na geboorte hoor en beweeg. Kleintjies drink slegs vir 10 minute per nag aan die wyfies. Laktasie duur slegs vir 'n tydperk van drie weke. Geen neste word vir die werpsel gebou nie.

Gedrag

Die vlakhaas is ʼn alleenloper, maar bronstige wyfies kan vir 'n kort tydperk deur verskeie mannetjies gevolg word. Voorkeurhabitat is oop, droë terrein. Hulle verkies die oop grasvelde van hul verspreidingsareas.

Waar hulle voorkom

Die vakhaas is wydverspreid en volop in die meer dorre streke van Suid-Afrika, asook Botswana en die sentrale distrikte van Namibië.