Wenke vir Onderhoude vir Plaaswerk
Jongmense wat wil boer begin dikwels as interns of vakleerlinge op kommersiële plase. Die Future Farmers Foundation is ‘n organisasie wat onderhoude voer met aansoekers en hulle plaas op plase waar hulle praktiese ervaring kan opdoen. Wanneer hulle hul internskappe in Suid-Afrika voltooi het, gaan baie voort met internskappe by internasionale boerderye. Stigter, Judy Stuart, en sommige ‘Future Farmers’ wat reeds hul internskappe voltooi het, deel ‘n paar wenke wat goeie onderhoude sal verseker.
Geen Selfone in Onderhoude nie
Selfone het geen plek in werksonderhoude nie. Skakel dit af, of laat dit by die huis. Om ‘n selfoon te beantwoord tydens ‘n werksonderhoud is onbeleef en swak maniere. As jy na ‘n werk soek is dit belangrik om vroeg op te daag, ‘n goeie indruk te skep en respek te betoon.
Wees Netjies
Stort en maak seker dat jy vars ruik. Trek netjies aan. Moenie ‘n sonbril dra nie. Mans wat met allerhande oorbelle en uitheemse haarstyle opdaag moet nie veel verwag as hulle na plaaswerk soek nie.
Glimlag
Jy sal waarskynlik gespanne wees tydens ‘n onderhoud, maar probeer glimlag. Dit skep ‘n goeie indruk. Dis lekker om saam met mense te werk wat vriendelik is – hulle maak almal rondom hulle gelukkig en maak die werksomgewing aangenaam. Oefen jou handdruk – maak seker dis ferm. Dit skep die indruk van selfvertroue, al het jy nie.
Goeie Postuur
As jy sit, sit regop. As jy sit-lê in jou stoel mag dit lyk asof jy verveeld of ongeïnteresseerd is. Dit help om effens vooroor te leun en oogkontak met die onderhoudvoerder te maak.
Vra Vrae
Tydens die onderhoud sal daar vrae aan jou gestel word wat jy moet beantwoord. Maar jy moet ook vrae vra. Doen navorsing oor die plaas en die pos waarvoor jy aansoek doen. Hoe meer jy weet van die plaas en die onderhoudvoerder, hoe beter. Jy kan vrae vra oor die plaas; dit sal wys dat jy belang stel en goed ingelig is. Hoe meer jy in die plaas belang stel, hoe meer sal die onderhoudvoerder in jou as kandidaat belang stel.
Jy sal ook meer uitvind oor die pos en of dit is wat jy wil doen.
Sodra die onderhoud verby is, moet jy jou waardering toon en die onderhoudvoerder bedank vir sy/haar tyd.
Translated by Elna Van Rhyn