Water Mongoose
Kommetjiegatmuishond

Naam

Kommetjiegatmuishond of Watermuishond (Atilax paludinosus)

Voorkoms

Met ’n algehele lengte van 800 – 1000 mm is dit ’n groot en robuuste muishond. Dit het ’n gewig van 2.5 – 4.2 kg. Die stert is 300 – 410 mm lank. Die kommetjiegatmuishond is donker bruin met ’n ligter neus. Hy het ’n kort lyf en die stert het lang toiingrige hare. Sy ore is teenaan die kop. Hulle het ’n groot skedel met ’n kort snoet. Die groot brein word geassosieer met die verhoogde tasbare sensitiwiteit en spierbeheer van die voorpote.

Hierdie eienskappe stel hierdie semi-akwatiese muishond in staat om krappe en ander relatief moeilike prooi te vind en te eet. Hulle tande is aangepas om die harde buitenste dop van skulpvis te verpletter eerder as om dit te verskeur. Hierdie is die enigste dier van die muishond familie met ongewebde pote wat op sagte grond uitsprei en dit laat ’n opmerklike spoor na.

Dieet

Die kommetjiegatmuishond eet hoofsaaklik akwatiese prooi soos krappe, garnale, vis en soms ook paddas. Terrestriële prooi soos rietrot, dassie en blou duikers word gereeld as voedsel aangeteken, maar dit is nie bekend of dit deur die kommetjiegatmuishond geaas of doodgemaak is nie.

Voortplanting

Die wyfie kry 2 kleintjies per werpsel en daar kan meer as een werpsel in ’n seisoen wees. Die kleintjies begin eet op een maand oud en hulle oë en ore gaan op 10 dae oud oop. Daar is min inligting oor die kommetjiegatmuishond se seksuele gedrag, maar dit is bekend dat hulle twee keer ’n jaar paar, een keer in die droë en een keer in die nat seisoen.
Die wyfie maak ’n nes met droë gras in ’n gat. As daar geen gate in moerasagtige gebiede beskikbaar is nie, word die kleintjies op ’n nes van riete, gras en stokke grootgemaak. Tot drie kleintjies per werpsel is al aangeteken. Soms vergesel ’n tweede volwassene ook die familie. Die kleintjies word gewoonlik na ’n paar maande gespeen en verlaat dan die nes.

Sosiale gedrag

Die kommetjiegatmuishond is ’n semi-akwatiese dier wat snags aktief is. Kommetjiegatmuishonde het gereelde gewoontes en volg paaie wat glad en goed gedefinieer is. Die paaie is geneig om riviere of kuslyne te volg en is dikwels versteek deur lang gras en riete. Die kommetjiegatmuishond lê op sy rug en dit lyk asof hy in die son bak maar hy vang op die manier voëls. In hierdie posisie vertoon die bleek, pienk anale area prominent teen die omliggende donker pels.

Dit lok voëls nader om daaraan te pik en dan word hulle gevang. Wanneer gevaar dreig maak die kommetjiegatmuishond ’n lae gromgeluid, wat versterk kan word deur skielike blaffende gromgeluide in ’n dieper toon. Wanneer die kommetjiegatmuishond skrik of bedreig word skei hy ’n slegruikende bruin vloeistof uit die anale sakkies uit. As hulle opgewonde is uiter hulle ’n hoë frekwensie gil en ’n oopmond geblêr. Hulle word dikwels alleen gesien. Hulle is hoogs territoriaal.

Habitat

Die kommetjiegatmuishond se habitat word hoofsaaklik geassosieer met riviere, strome, riviermondings en kusstreke, vleie en rivierbeddings. Hulle kan ’n bietjie verder van water af beweeg. Rotsagtige gebiede in strome of naby damme word dikwels as rusplekke gebruik.

Verspreiding

Die kommetjiegatmuishond is wyd versprei in die oostelike en suidelike hoër reënvalgebiede van Suid Afrika en al langs die Oranjerivier.