Vroeë Versamelaars in die Richtersveld

Gordonsbaai

©Shem Compion
Kolonel Gordon het in 1779 met sy terugkoms na sy verkenning van die Oranjeriviermond die bevelvoerder van die Hollandse Garnisoen in Kaapstad geword. Hy het aangehou reis en al die natuurlike wonders wat hy aanskou het geteken en gekategoriseer. Die Hoodia gordonii plant is na hom vernoem. Napoleon het in 1795 moeilikheid in Europa begin maak en die koningshuis van Oranje omvergewerp. Die Britte het die uitgeworpe Nederlandse koning ondersteun en ’n vloot skepe namens hom gestuur om die Kaap in te neem. Gordon se lojaliteit was dus verskeur tussen die onttroonde koninklike familie en en sy nuwe Napoleon-beheerde heer en meester, die Nederlandse Republiek. Gordon se besluiteloosheid is erg gekritiseer nadat die Britte die Nederlandse bataljonne in die Slag van Muizenberg verslaan het. Hy was ook sieklik en het ander persoonlike probleme gehad. Dus het RJ Gordon in 1795, kort ná die Nederlandse oorgawe, selfmoord gepleeg. Gordonsbaai, naby Kaapstad, is ter ere van hom vernoem.
In die jare wat gevolg het, het verskeie ander vooraanstaande wetenskaplikes en ontdekkingsreisigers van oor die hele wêreld na Namakwaland en die Richtersveld gereis. Hierdie sluit die ietwat oordrewe ornitoloog Francois Le Vaillant (1783), Carl Ludwig Phillip Zeyher (1830) en Johann Franz Drège (1833/4) in. Laasgenoemde staan bekend as die “vader van SA fitogeografie” wat die “verspreiding van plantspesies” beteken. Dit klink dalk nie as die indrukwekkendste verering nie, maar meer as 100 plante is in Drège se eer vernoem – wat nogal nie te sleg is nie.

Namakwaland se Aantrekkingskrag

In die 20ste eeu het Namakwaland en veral die Richtersveld se aantrekkingskrag steeds versamelaars wat nuwe spesies wou identifiseer daarheen gelok. Dit sluit die twee broers, Rudolph en Max Schlechter, Dr. Louis Leipoldt en Selmar Schönland, ’n groot vetplant liefhebber, in. Interessant genoeg was al hierdie navorsers van die buiteland af en hulle versamelings is na inrigtings buite Suid-Afrika gestuur. Suid-Afrikaanse botaniese studies het eers in 1902 begin. Dit was nadat die sakeman en amateur-botanis, Harry Bolus, ’n pos in Plantkunde by die Suid-Afrikaanse Kollege (nou die Universiteit van Kaapstad) gekry het.
Die eerste persoon wat Bolus opgevolg het, was Harold Pearson, wat ’n blywende belang in die Namakwalandse plante gehad het. Hy het op twee reise, 1908-09 en 1909-10, na die streek gegaan en baie inligting en monsters versamel. Pearson het in 1913 die eerste direkteur van die Kirstenbosch Botaniese Tuin geword en het die Nasionale Botaniese Instituut, nou die Nasionale Biodiversiteitsinstituut, tot stand gebring. Die seldsame Aloe pearsonii is na hom vernoem.

Translated by Ananda Schoeman