Ontdek die Oranjerivier
‘n Nuwe Groep Ontdekkingsreisigers
In die 1770’s het ’n nuwe groep ontdekkingsreisigers Namakwaland binnegekom. Dit was die wetenskaplikes, ornitoloë en botaniste wat in die gebied se bizarre plante en ongewone diere belanggestel het. Hierdie groep het Francis Masson, ’n botanis van Kew Gardens, ingesluit. Hy is deur die koning van Engeland gestuur om sade en plante vir die koninklike kweekhuis te versamel. Masson het jare lank deur die wêreld gereis, waaronder twee toere na Suid-Afrika in 1772-1774 en 1786-1795. Hy het in 1774 Stapeliads, ’n tipe vetplant, uit die Kamieskroon-distrik versamel. Masson is dikwels deur ’n ander noemenswaardige versamelaar, Carl Thunberg, die “vader van die Kaapse Plantkunde”, vergesel. Saam het hulle in 1774 die suidelike deel van die Knersvlakte naby Vanrhynsdorp besoek.
Twee belangrike bydraers tot die Weste se kennis van Namakwaland was Robert Jacob Gordon en William Paterson. Gordon, ’n Hollander, was ’n produktiewe reisiger wat verskeie uitgebreide reise regoor Suid-Afrika onderneem het. Dit was tydens een van hierdie reise, in 1777, dat hy op die “Groot” rivier naby Bethulie afgekom het. Hy het dit die Oranje genoem, ter ere van die Koningshuis van Oranje, die heersers van Holland. Gordon het vermoed dat hierdie rivier tot by die see loop, maar hy kon dit nie bewys nie.
Die Mond word Gevind
In 1779 het Gordon saam met ’n gereelde reisgenoot, William Paterson, probeer om die Oranjerivier se mond te vind. Paterson was ’n jong Britse plantkundige wat deur sy eksentrieke beskermheer, Lady Strathmore, na die Kaap gestuur is. Hy het tydens sy verblyf in Suid-Afrika ’n mate van kontroversie geniet. Op een slag is hy daarvan beskuldig dat hy ’n Britse spioen was en later is gesê dat hy goud op die oewer van die Oranjerivier ontdek het, maar die geheim vir homself gehou het. Paterson was in elk geval reeds in 1778 by die oewer van die Oranje toe hy die belowende ou kopermyne naby die huidige Springbok ondersoek het. Hy was dus bekend met die omgewing toe hy en Gordon noordwaarts gereis het.
’n Kort entjie buite Kaapstad was hulle gelukkig genoeg om Hendrik Wikar, ’n klerk van die Oos-Indiese Kompanjie, teë te kom. Hy het in 1775 weens onbetaalde dobbelskuld uit die Kaap gevlug het. Wikar het derhalwe ’n aantal jare langs die Oranjerivier in die geselskap van ’n paar vriendelike inwoners spandeer. Hy het ’n informele verslag oor die streek geskryf en aan die Hollandse goewerneur, Van Plettenberg, gestuur. Hierdie verslag was so nuttig dat die goewerneur Wikar verskoon het en hy was op pad terug Kaap toe toe hy Paterson en Gordon ontmoet het. Sonder twyfel het Wikar beslis die twee ontdekkingsreisigers waardevolle inligting gegee.
Tog was die reis baie moeilik. Die sagte sand van die Sandveld was altyd moeilik vir reisigers, maar Gordon en Paterson was vasbeslote om naby die kus te bly in plaas van wes na harder grond. Hulle het egter volhard en deurgedruk vanaf die Buffelsrivier, naby die huidige Kleinzee, verby McDougallsbaai, naby die huidige Port Nolloth en deur die Holgat Kloof. Hulle het die Oranjeriviermond op 17 Augustus 1779 bereik. Hierdie kort afstand van 120 km het hulle 9 dae lank gevat.
Die Oranjerivier word Benoem
By hulle aankoms het hulle die klein bootjie wat hulle saamgebring het uitgepak. Volgens Paterson het hulle die boot geloods en die Nederlandse vlag gehys. Kolonel Gordon het voorgestel om eers op die staat se gesondheid te drink en dan op die Prins van Oranje. Daarna het hy die rivier, ter ere van die prins, die Oranjerivier benoem. Hierdie tweede benaming was waarskynlik omdat Gordon nie seker was of dit dieselfde rivier was wat hy by Bethulie gesien het nie.
Hulle het met die boot na die noordelike oewer van die rivier gevaar. Daar het hulle ’n paar Strandlopers ontmoet wat Gordon geskets het. Die volgende paar dae is bestee om die groot ronding in die Oranjerivier, wat rondom die moderne Richtersveld Nasionale Park lê, te ondersoek. Die ontdekkingsreisigers het daarna teruggekeer na die Buffelsrivier, waar hulle paaie geskei het. Paterson is terug Kaapstad toe en Gordon terug na die Oranje waar hy die rivier ooswaarts na die Prieska area gevolg het. Dit was moontlik om homself tevrede te stel dat dit dieselfde rivier is wat hy reeds in 1777 al benoem het.
Translated by
Ananda Schoeman