Vervoer Van Varke

©National Pork Board, USA
Verskeie regulasies en praktykkodes moet nagekom word by die vervoer van varke. Opsommenderwys is die doel daarvan om te voorkom dat siektes versprei en om dierestres gedurende vervoer te verminder.

Biosekuriteit

Om te voorkom dat voertuie siektes versprei moet hulle deeglik skoongemaak en ontsmet word voordat hulle terugkeer na enige varkboerdery. In areas waar siektebeheer toegepas word, mag varke nie vervoer word sonder ‘n permit van die staatsveearts nie. As siek varke vervoer word, moet hulle apart van gesonde varke vervoer word.

Dieregemak

Varke moet so ver moontlik vervoer word gedurende die koeler gedeeltes van die dag, hoewel hulle oor die algemeen nie daarvan hou om snags vervoer te word nie. Die diere moet beskerm word teen direkte sonlig, uitermatige koue, koue wind en uitlaatgasse. Skadu, soos ‘n seil, of ander soliede materiaal moet voorsien word tydens die warmer tye van die dag. Dit mag ook nodig wees om die varke nat te gooi as hulle baie warm kry. Vloere van die voertuie moet glyvas wees en die kante van die bak moet hoog genoeg wees dat die varke nie afspring nie.
Varke van dieselfde grootte en ouderdom moet saam vervoer word, met afskortings wat die verskillende kategorieë van mekaar skei, of groter groepe in kleiner groepe verdeel om ‘n bakleiery en geboelie te verhoed.
Die hokke en afskortings waarin die diere gehou word moet groot genoeg wees dat alle diere gelyktydig kan platlê, met ten minste 0,56 vierkante meter spasie vir elke spekvarkie en vleisvarkie, terwyl groter varke tot 0,74 vierkante meter spasie benodig. Hoewel varke normaalweg nie vreet terwyl hulle vervoer word nie, moet hulle water kry binne 18 uur nadat hulle reis begin het wanneer hulle oor lang afstande vervoer word.
Die produksiehandleiding van die South African Pork Producers Association, “Pigs For Profit”, raai boere aan om varke eers op die voertuig te laai nadat alle papierwerk afgehandel is en alles gereed is vir die rit, omdat varke baklei wanneer hulle ontsteld is, veral terwyl die voertuig nog nie beweeg nie.

Hantering van Diere

Sorg moet gedra word dat varke gelaai word met so min stres as moontlik. Dit kan gedoen word deur opgeleide werkers wat varke se natuurlike gedrag voordelig kan benut en deur die gebruik van platvorms en laaibanke wat varke sal toelaat om vryelik in die voertuie in te loop. Varke beweeg byvoorbeeld baie makliker as hulle as ‘n groep beweeg word. Dis ook makliker om hul beweging te reguleer terwyl hulle jou kan sien.
“Pigs For Profit” stel voor dat boere ‘n vangtou met ‘n lus om die bokaak van die vark gebruik wanneer hulle individuele varke moet verskuif. Moenie probeer om op jou eie volwasse varke te verskuif nie omdat hulle baie swaar is en baie sterker as ‘n man is.
Die laaifasiliteit moet dieselfde hoogte en wydte wees as die vloer van die bak van die voertuig waarop hulle gelaai word. Dit kan moeilik wees omdat die varke met verskillende voertuie opgelaai word. Hulle kan opgetel word tot in die voertuie, maar dit kan moeilik wees en beserings tot gevolg hê. Diere mag nie aan hulle bene gesleep, of aan hulle koppe, ore of sterte opgelig of gedra word nie. Bestuurders van die voertuie moet ‘n slag met diere hê. Hulle moet so egalig as moontlik bestuur om te voorkom dat die diere rondval, mekaar omstamp en beserings opdoen.
Voertuie moet slegs stop wanneer dit absoluut noodsaaklik is en gebeurlikheidsplanne moet in plek wees vir moontlike noodgevalle of indien die voertuig sou onklaar raak. Bestuurders behoort opgelei te wees om te weet wat om te doen in ‘n noodgeval en moet selfone hê waarmee hulle iemand kan kontak indien hulle hulp nodig het.

Translated by Elna Van Rhyn