Verken Sterkfontein

‘n Wandeling Deur die Tyd

©David Fleminger

‘n Toer deur die Sterkfonteingrotte is natuurlik ‘n hoogtepunt en behoort deur enigiemand  wat die fasiliteit besoek, onderneem te word. Dis ‘n maklike wandeling met begeleiding sodat jy die meeste uit jou ervaring onder die grond sal kry.

Die toer begin by die besoekersentrum met ‘n insigbiedende “walk through time” met plakkate wat belangrike momente uitbeeld vanaf die “Big Bang tot by die ontwikkeling van die moderne mens. Dit neem jou vanaf die besoekersentrum, verby die baie slim sonwyser tot by die bek van die grotte. Nadat jy by die trappe afgeklim het, voel dit asof jy die 21ste eeu agtergelaat het soos jy ‘n tydlose wêreld van rots en stilte betree. Die toer neem jou verby die Silberberg Grotto waar Little Foot gevind is – dis nie oop vir die publiek nie weens ooglopende redes – en aan na die hart van die grot. Die atmosfeer in die grot is koel en stil en die hoë hoofsaal het steeds indrukwekkende rotsformasies wat dit reggekry het om die destruktiewe mynaktiwiteite van die vroeë 20st eeu te oorleef.

Die toer lei dan verby die ondergrondse meer, donker en kalm, maar ietwat intimiderend ten spyte van sy skoonheid. En dan voort deur ‘n aantal kleiner grotte totdat jy uiteindelik weer die sonlig en moderne wêreld aan die ander kant bereik.

Vordering deur die grotte is relatief maklik met goeie paadjies, handrelings en toepaslike beligting. Daar is slegs ‘n kort entjie waar ‘n mens moet buk of kruip (afhangende van die toestand van jou knieë). Goeie stapskoene, jeans en ‘n vorm van windbreker word aanbeveel vir jou gerief.

Maropeng Besoekersentrum

©David Fleminger

Die verskeie owerhede verantwoordelik vir die Wieg van die Mensdom het ‘n nuwe en unieke besoekersentrum opgerig wat sal funksioneer as die trekpleister van die area.  Dit word Maropeng genoem wat beteken ‘terugkeer na die plek van oorsprong’ of ‘die plek waar ons almal vandaan kom’. Dit is naby die Sterkfonteingrotte en kan maklik gekombineer word met ‘n toer deur die grotte as ‘n baie bevredigende daguitstappie.

Die beste ding van Maropeng is die ontwerp.  Dis gebou om te lyk soos ‘n ou Tumulus of (antieke begrafnishoop) en lyk soos ‘n lae heuwel wat heeltemal bedek is deur welige, geil groen gras. As gevolg hiervan smelt dit ongemerk saam met die omringende landskap en is eenvoudig ‘n verstommende stuk inheemse argitektuur.

Die sentrum is in die hoof Tumulus kompleks.  Die ingang is uit die heuwel gesny en sodra ‘n mens binne is, is die aandag aan detail eenvoudig fantasties. Dis gebou rondom ‘n sentrale atrium wat strek vanaf die kruin van die heuwel tot onder in die kelder. ‘n Stel trappe draai rondom die buitekant van die atrium en ‘n gordyn van watervalle omring die onderste derde van die trappe.

Op die eerste vloer is die Tumulus Restaurant wat ligte etes asook meer substansiële etes aan honger Paleo-toeriste verskaf.  Die groot opelug terras is beslis die plek om te sit aangesien dit verstommende uitsigte oor die berge verskaf en dis ‘n heerlike plek om ‘n lui namiddag deur te bring. Die hoof toeriste-attraksie is af met die trappe, in die kelder waar jy die uitstalsaal vind met allerhande historiese tydstukke.  Om daar uit te kom kan jy die ‘Ride Through Time’ neem – ‘n ietwat kort en rustige ‘theme-park-ride’ deur glasveselrotse, afstandbeheerde watervalle en chemiese rook wat veronderstel is om die formasie van ‘n oer-aarde voor te stel. Dis onskadelik genoeg met slegs die skielike vorentoe val van die vaartuig wanneer dit met die vervoerband afbeweeg in die water in, maar ‘n bietjie arbitrêr.

Daar is baie om te leer uit Maropeng se boodskap dat ons almal eenders is in ons verskeidenheid.  En daar is ‘n aantal treffende uitstallings en interaktiewe aanbiedinge. Maar asseblief, moenie net aanvaar wat ek sê nie. Ander mense met wie ek gepraat het, het gedink die saal was wonderlik en die moeite werd, so besoek Maropeng en besluit vir jouself.

Translated by Elna Van Rhyn