Die Veelsydigheid van Varkvleis

©Winelands Pork
Die fokus van die Suid-Afrikaanse varkvleisbedryf op die lewering van maerder vleis het tot gevolg dat Suid-Afrikaanse varkvleis minder vet bevat as varkvleis van baie ander lande. Nogtans is Suid-Afrikaanse varkvleis ryk aan voedingstowwe, noodsaaklike aminosure, vitamienes en minerale, met lae hoeveelhede cholesterol en versadigde vetsure.
In, The Complete Guide to South African Pork verskaf die South African Pork Producers Organisation (SAPPO) die volgende lys van gewilde varksnitte.

Dikrib

©Winelands Pork
Dikribtjops word aan die onderkant van die nek uitgesny, en is volgens The Complete Guide to South African Pork die sappigste, sagste tjops wat jy kan kry. Dis ideaal om op die rooster of in die pan te braai. Dikrib kan ook opgesny word in blokkies vir kebabs, roerbraai-of kerriegeregte en bredies.
Alternatiewelik kan die bladbeen verwyder word en die snit opgerol en vasgebind of in ‘n netsakkie geplaas word vir ‘n heerlike oondbraaistuk. Die skouerkussing kan losgesny word van die groot skouerspier. Dis dan ‘n beenlose, maer snit met goeie geur vir oondrooster.

Rib

©Winelands Pork
Die rib kan ontbeen en opgerol, of die bene kan behou word vir ‘n oondroosterstuk, of opgesny word in tjops wat ideaal is vir panbraai, braaivleis of oondrooster, met of sonder marinade of ‘n bedruipsous.

Lende

©Winelands Pork
Die lende kan gebruik word as ‘n oondroosterstuk met of sonder been en die roosterstuk word ‘n saaltjie genoem indien die lende verdeel word in twee dele. Die lende kan ook in sagte tjops opgesny word wat in die pan gebraai of op die rooster gebraai kan word, met of sonder marinade of bedruipsous.

Kruis

©Winelands Pork
Die kruisstuk kan ontbeen of heel met been geniet word as ‘n groot oondroosterstuk. Die kruisstuk kan ook opgesny word in tjops, wat die “rump steaks” of kruisskywe is van die varkkarkas, volgens The Complete Guide to South African Pork. Die tjops kan gerooster, pangebraai of oor die kole gebraai word met of sonder marinade.

Boud

©Winelands Pork
‘n Hele boud is ‘n smaaklike en ekonomiese manier om ‘n groot groep mense kos te gee. Die slagter kan die boud ontbeen en dan die vleis vasbind sodat dit ‘n egalige vorm het en maklik sal sny wanneer dit gaar is. Die boud kan in twee kleiner roosterstukke verdeel word, die diklies en die dy of binneboudstuk, of opgesny word in blokkies of repies vir roerbraaigeregte, bredies en kerries. Alternatiewelik kan schnitzels, steaks of tjops uit die boude gesny word vir panbraai, rooster of braai oor die kole.

Skenkel en Pootjies

©Winelands Pork
Heel skenkels word dikwels gerook en staan as “Eisbein” bekend. Dit kan ook opgesny word in kleiner stukke wat beter geskik is vir lang, stadige gaarmaakprosesse soos bredies, potjiekos en kerries.

Lies

©Winelands Pork
Die lies kan heel gebruik word, met of sonder die been, as ‘n sappige oondbraaistuk, of opgesny in repe, snye of streepspek. Volgens die gids smaak hierdie snitte die beste wanneer hulle oor medium-warm kole gerooster word, met of sonder marinades of bedruipsouse.

Bors

©Winelands Pork
Die borsstuk is die deel waaruit die “spareribs”/varkribbetjie gesny word. Hulle kan gemarineer, bedruip en gerooster word in die oond of oor kole. Die borsstuk kan ook heel gebruik word as ‘n oondroosterstuk, met of sonder been.

Translated by Elna Van Rhyn