Veediefstal Voorkoming

© Chris Daly
Rooi vleis verskaffers verloor jaarliks honderde miljoene rande as gevolg van veediefstal. Die Nasionale Veediefstal Voorkomings Forum verskaf die volgende wenke om boere te beskerm teen veediefstal, asook vervolging oor wanneer die diewe vasgetrek word:

Merk jou Diere

©Marinda Louw
Volgens die wet in Suid Afrika moet alle diere duidelik gemerk word met die eienaar se unieke identifikasiemerk. Dit is moeilik om veediewe te vervolg wanneer eienaarskap van diere nie bewys kan word nie.

Tel jou Diere

©Eric Miller
Diere moet gereeld getel word om verliese en potensiële probleme te identifiseer. Die diere moet ten minste een keer ʼn week getel word indien dit nie elke dag gedoen kan word nie. Boere behoort verkieslik die diere self te tel maar indien dit nie moontlik is nie moet hulle gereelde kontrolering doen om te verseker dat die nommers korrek is.
Verlore diere en pogings tot diefstal moet dadelik by die polisie aangemeld word. Hoe langer mens wag, hoe moeiliker is dit om leidrade op te volg en die diewe aan te keer.
Diere wat nie aan jou behoort nie moet aangemeld word by die polisie en naburige boere. Jy wil nie jou plaas verskaf as ʼn plek wat die diewe gebruik om gesteelde diere weg te steek nie, of erger, om aangekla te word van veediefstal as jy onskuldig is nie.

Rekordhouding

©Chris Daly
Hou deeglik register van jou diere met soveel besonderhede as moonltik en hou dit op datum.

Verhandeling van Vee

©Eric Miller
Nuwe eienaars het identifiseerbare dokumente met die name en vanne van die vorige eienaars sowel as die naam en adres van die koper en verkoper, asook die datum van die transaksie nodig. Die koper moet hierdie dokumente ten minste vir ʼn jaar hou as bewyse van aankope.
Handelaars en afslaers benodig sertifikasie om te bewys hulle het die vee verkoop namens die eienaars. Die datum van bemagtiging moet onlangs wees en besonderhede insluit van die tipe of ras van die vee, die aantal, die identifikasiemerke, geslag, asook die aantal en kleur van die vee indien nie gemerk op die voorgestelde manier nie.

Vervoer

Vervoerders het ʼn sertifikaat van verwydering nodig indien die vee vervoer word op ʼn publieke pad wat deur jou eie land/grond loop. Die sertifikaat moet die volgende bevat, naamlik die naam en adres van die eienaar van die vee, die plek vanwaar en waarheen die vee vervoer word, die naam van die drywer, die datum wat die sertifikaat uitgereik is en waar nodig informasie oor die voertuig. Die tipe of ras van die vee, die aantal, die identifikasie merke, geslag, asook die kleur van die vee indien nie gemerk op voorgestelde manier nie moet ook genoem word.

Om ʼn Saak Aan te Meld

Boere meld nie altyd veediefstal aan nie omdat die proses so langdradig is en baie tyd opneem. Om sake aan te meld is belangrik, nie net om die diewe aan te keer nie, maar omdat die industrie ʼn meer akkurate prentjie sal hê van hoe ernstig veediefstal is. Dit sal help om bewyse te lewer sodat die regering meer hulpbronne in term van mannekrag en toerusting beskikbaar kan stel vir die bekamping van veediefstal. Hoe gouer ʼn saak aangemeld word, hoe beter die kanse dat die diewe aangekeer kan word.

Getuig

©Roger de la Harpe
Veediewe kom baiekeer skotvry daarvan af, ten spyte van al die tyd en pogings aangewend om hulle te vang en ʼn saak teen hulle te maak, wanneer die boere nie by die hof opdaag om te getuig nie. Suksesvolle vervolgings lei tot die voordeel van die hele plaas gemeenskap.

Translated by Wilma Koeppen