Teelkonynmannetjies en Wyfies

© Judy Stuart

Mannetjies

Die mannetjies in jou trop is die waardevolste diere wat jy het en behoort die hoogste moontlike kwaliteit te wees. ‘n Stoetmannetjie kan tot 10 wyfies per maand dek en daarom is sy genetika oor baie meer kleintjies heen versprei as net die nageslag van ‘n enkle wyfie. In een maand kan hy die genetika verskaf vir gemiddeld 60 – 80 kleintjies, afhangende van die geboorte- en speengemiddeldes.
Die stoetmannetjie moet maklik hanteerbaar wees, en verkieslik in ‘n maklik bereikbare hok wees. Die deur van sy hok moet groot genoeg wees sodat dit maklik is om die wyfie in die hok te sit en weer uit te haal.
Mannetjies moet altyd alleen in ‘n hok wees. Twee mannetjies sal baie erg baklei en kan mekaar baie maklik kastreer. Omdat hulle geneig is om urine oor hulle bure te sprei, is ‘n soliede afskorting tussen mannetjies se hokke en ander baie handig.
©Judy Stuart

Wyfies

Neem altyd die wyfie na die mannetjie se hok. Wyfies is baie territoriaal en sal nie ‘n mannetjie in hul hokke duld nie en hom aanval.
Wanneer ‘n wyfie gekies word om mee te teel, maak seker dat sy ‘n minimum van agt tepels het as sy van die groot rasse is en ‘n minimum van ses vir die minirasse.
Voordat ‘n wyfie in ‘n mannetjie se hok geplaas word moet daar eers seker gemaak word dat sy op hitte is. Haal haar uit haar hok uit en draai haar onderstebo in jou arms. Trek haar stert saggies terug en druk liggies op haar vulva. As haar genitalieë klein en ligpienk is, plaas haar terug in die hok en streel haar ‘n aantal kere van kop tot stert om haar te stimuleer en toets haar weer die volgende dag. ‘n Wyfie wat gereed is vir paring se genitalieë is gewoonlik geswel en donkerpers.
Plaas die wyfie in die mannetjie se hok en hou hulle dop. Hy sal naderkom en die paring is gewoonlik baie vining. Hy sal op haar klim en sy sal haar agterkwart van die vloer af oplig. Hy sal vining pomp en ejakuleer deur homself in ‘n stywe bal oor haar rug te rol en af te val na agter of na die kant toe. Dit duur selde meer as ‘n minuut of twee. Wag vir ‘n tweede paring, verwyder die wyfie en plaas haar terug in haar eie hok.
Skryf op die wyfie se hokkaart (sien rekordhouding) die datum van paring, naam en nommer van die mannetjie en maak ‘n aantekening in ‘n dagboek. Gee haar 27 dae later ‘n neskas gevul met strooi of droë gras. Die kleintjies sal aankom op dag 30 of 31 na paring en word meestal gebore in die vroeë oggendure.
Die ma-konyn sal ‘n nes bou in haar neskas deur gebruik te maak van die materiaal wat beskikbaar is en ook hare uit haar bors en pens trek om ‘n bed te maak vir haar werpsel. Dis baie ongewoon vir ‘n wyfie om geboorte te skenk terwyl mense teenwoordig is.
Die geboorteproses is baie vining en die wyfie sal onmiddellik die kleintjies skoon lek en enige dooies eenkant to skuif. As die kleintjies droog is sal sy hulle laat drink. Sy laat hulle net tweekeer per dag drink – teen sononder en teen sonopkoms. Dis selde dat ‘n teler ‘n wyfie sien terwyl sy haar kleintjies laat drink. Sy hou van haar privaatheid.
©Judy Stuart

Translated by Elna Van Rhyn