Stokotwikkeling beperk die ontwikkeling van die wingerdplant tot ’n hoofloot (stam) en kordonlote (arms) asook oormatige ontwikkeling van sylote. Die doel van stokontwikkeling is om die wingerd se ‘sylote’ (ook genoem kordon-arms) ewe lank en ewe dik op die kordondraad te verseker.
Aan hierdie kordon-arms word die druiwetrosse later gedra. Stokontwikkeling bepaal dus die stokvorm. Dit is belangrik dat die wingerd - wat ‘n rankplant is - se stam regop groei.
Reguit stamme verseker dat die kordonne ewe lank is. Dit beteken ook dat as die draers goed gespasieer en dus ewe sterk is, die trosse meer egalig voorkom en van beter kwaliteit is. Waar trosse nie goed verspreid oor die stok voorkom nie, sal trosse swakker kleur en korrels kan beskadig. Die trosse op die stok kan ook stukkend druk en nie dieselfde kwaliteit druiwe lewer nie.
Jong wingerdstokkies moet vanaf planttyd gereeld deur opgeleide werkers gesuier en met behulp van tou of plastiekstrokies aan ’n riet, paaltjie of ’n draadpen vasgemaak word of teen ’n tou opgelei word. Die doel hiervan is om die jong plant gereed te maak vir verdere groei op die prieelstelsel waarteen later dit opgelei word.
Die doel van ‘suier’ is om ongewenste sylote, veral waterlote af te breek om die groei van die stok na die kordon-arms te verwys. Gereelde suier of die wegbreek van sylote kan meebring dat die stokkie vinniger verleng en nie sy groeikrag vermors tydens die vorming van sylote nie. Na planttyd (of dan na die eerste jaar se groei) word die stokkie teruggesny na twee oë.
Daarna word die loot wat die sterkste ontwikkel, gebruik om as die hoofstam te ontwikkel. Die tweede loot word getop en gehou as ’n spaar loot en die res word weggesuier. ‘Top’ is die verwydering van die boonste 15 - 25 cm van ‘n loot. Die hoofstam moet so reguit as moontlik gehou word deur die stam gereeld regop te trek.
Krom stamme bemoeilik trekker- en oesmasjien beweging in die rye en veroorsaak ook dat die stok se kordonne nie dieselfde lengte weerskante is nie. Sodra die hoofloot ongeveer 30 cm bokant die kordondraad uitgegroei het, word die loot by die eerste lit, net bokant die kordondraad, getop.
Hierdie stop van opwaartse groei, sal meebring dat sylote kan ontwikkel vanuit die boonste gedeelte van die hoofloot. Twee sylote, een aan elke kant, word gelos om te ontwikkel as die toekomstige kordon. ’n Spaar loot as een sou afbreek of seerkry, word ook behou.
Stokontwikkeling is ’n baie belangrike fase in die leeftyd van die wingerd en word grotendeels bepaal deur groeikrag in ‘Jaar Een’. Groeikragtigheid van die stokkie sal bepaal of daar dadelik met stokontwikkeling begin kan word. Besluit egter vroeg genoeg oor die metode van oplei en hou daarby.
Stokvorm, asook die aantal draers van die stok, word nou bepaal om later die produksie te beïnvloed. Tydens hierdie fase moet alle dooie stokke vervang word en stokke wat by die entlas afgebreek het, afgeënt of vervang word.
Gee aandag aan die bestuur van spaar lote - ‘n spaar loot vir die stam en vir die kordon: top hulle sodat hulle nie kompeteer met die hooflote nie en indien die hoofloot sou afbreek, moet daar teruggesny word na die spaar loot. Tydens hierdie fase kan ons nog nuwe draers vorm deur ’n waterloot te benut.
Let veral op na stokke wat verkeerd vasgemaak is en deur ’n toutjie om die hoofstam geknel word. Terwyl die stokke jonk is, moet wye mikke aangespreek word. Kordonlote kan selfs oor-kruis gevleg word om ’n nouer mik te verseker. Verkieslik moet daar nie draers in die mik wees nie.
Geen draers word aan die onderkant van die mik ontwikkel nie - draers word slegs aan die onderkant van die kordon ontwikkel indien daar ’n kaalnek onstaan het. Die goue reël van stokontwikkeling is: As jy twyfel, sny terug. Gebruik altyd die potlooddikte-reël om te bepaal tot waar teruggesny moet word.
Indien daar kaal nekke op die kordon voorkom, sny eerder terug na ’n sterk syloot en vleg hom op die kordon. Moenie twyfel om terug te sny na die drupperdraad of selfs terug na twee oë nie. Moet ook nie twyfel om terug te sny indien jy nie tevrede is met die stokvorm nie.
In droëland-areas (waar geen besproeiing aan die wingerd voorsien word nie) word stokkies normaalweg wyer geplant as by opleiwingerd waar besproeiiingstelsels water aan die wingerd voorsien. Tydens die ontwikkeling van ’n bosstok moet daar probeer word om ’n stok te ontwikkel met ’n kort stam met 6 - 8 draers waarvan die binneste gedeelte oop is.
Wanneer gesnoei word worde daarna veryws dat ‘n sokkerbal binne die stok moet kan pas. Daar moet dus probeer word om alle lote wat na binne groei tydens lowerbestuur te verwyder en lote wat afwaarts groei word tydens suier verwyder.
Lote word doelbewus na ’n buite-oog gesnoei sodat geen sylote aan die binnekant van die plant ontwikkel nie. Gedurende die ontwikkeling van die bosstok behoort oesbeheer streng toegepas te word deur trosse te verwyder.
Waar wingerd geplant word om in die toekoms meganies gesnoei te word, is goeie groeikrag ’n vereiste omrede die stok hoër ontwikkel moet word as by normale opleistelsels. Dit is veral belangrik as die kordon in jaar een ten volle ontwikkel moet word. Dit word hoofsaaklik deur grondpotensiaal asook kultivar en onderstok-kombinasie bepaal.
By die stelsels wat gevestig word vir meganiese snoei word daar weggedoen met die tradisionele loofdrade. Daar verskillende stelsels van opleistelsels soos byvoorbeeld om die kordon word slegs na een kant ontwikkel en die stok toe te laat om verby die aangrensende stok te groei.
Translated by Marinda Louw