Self-ry Roetes deur die Vredefort Koepel

© Jacques Marais
Die ingang na die Vredefort Koepel is Parys, ‘n aantreklike vakansiedorp wat gebou is op die suidelike oewer van die Vaalrivier. Om Parys vanaf Johannesburg te bereik, neem die N1 Suid, en volg die aanwysings na Bloemfontein. Nadat jy deur die Grasmere Tolhek is, verander die ruwe stedelike landskap geleidelik in aaneenlopende landerye. Ongeveer 80km buite Johannesburg sal jy oor ‘n brug oor die Vaalrivier die Vrystaat binne ry. Sowat 10 km verder (rofweg 90km vanaf Johannesburg), moet jy die R59 afrit na Parys / Sasolburg, net voor die Kroonvaal Tolhek, neem. Draai regs aan die bopunt van die afrit en ry nog 20km totdat jy Parys bereik.
So ‘n entjie in die dorp in met die hoofstraat (Loopstraat) sal daar ‘n stopstraat wees. Daar moet jy skerp regs draai in Waterstraat en dan weer links in Breëstraat, ‘n breë boulevard wat baie restaurante, antieke winkels, kunsgalerye en winkels huisves en ure van genotvolle rondsnuffel bied.
As jy klaar is, beweeg aan met Breëstraat totdat jy die eerste (en enigste) verkeerslig in Parys bereik. Van daar af kan jy reguit aanhou vir so 15km totdat jy die klein dorpie, Vredefort bereik. Alternatiewelik kan jy regs draai, en met die R53 oor die brug oor die Vaalrivier ry na Potchefstroom toe wat ongeveer 50km verder lê. Die Vredefort Koepel Berglandskap is duidelik sigbaar waar dit vanuit die noordelike oewer van die Vaalrivier opstyg en kan met enigeen van die twee teerpaaie bereik word.
Die grondpaaie wat deur die Koepelberglandskap loop, bied aan die motoris vele roetes en opsies. Die natuurskoon is asemrowend en die atmosfeer is rustig en landelik. Let egter daarop dat die sekondêre paaie deur die valleie redelik rof kan word. Hulle word ongereeld geskraap en het soms erge sinkplaatgedeeltes. Jy het steeds nie ‘n vierwielaangedrewe voertuig nodig nie; ‘n motor met ‘n goeie suspensie en wat nie te laag is nie, is verkieslik. Kry ‘n kaart van die omgewing by een van die teoristeburo’s in die dorp om te verhoed dat jy te ver verdwaal.

‘n Voorgestelde Heen-en-Terugrit vanaf Parys na die Vredefort Koepel

Draai regs by die verkeerslig in Breëstraat en neem die R53 na Potch. Aan die oorkant van die brug sal jy Jalapor’s General Dealer winkel sien. Hierdie handelspos bedien Parys al vanaf die 1920’s en beskik nog oor baie van sy oorspronklike toerusting. Dis geleë aan die verkeerde kant van die rivier omdat Indiërs nie toegelaat is om winkels in die Vrystaat te bedryf nie.
Na 2 km sal jy die aansluiting met die R500 na Fochville bereik. Draai links en gaan voort op die R53 na Potch.
10 km buite Parys moet jy links draai by die aanwysing na Venterskroon. Die pad word nou ‘n grondpad soos jy daal na die vrugbare vallei tussen twee van die Vredefort Koepel se riwwe.
Na ‘n paar kilometers sal jy ‘n smal bruggie oor ‘n pragtige stroompie bereik. Daar is ‘n afdraai gemerk ‘Koppieskraal’. Hierdie is ‘n kortpad terug na Parys met wonderlike uitsigte. As jy reguit aanhou in die rigting van Venterskroon, sien jy ‘n dramatiese rif van omgedopte rotse. Die reuse magte betrokke by die Vredefort Koepel begin nou sigbaar word. Stop by Thabela Thabeng gasteplaas en kyk gou na hulle interessante geologiese uitstalling.
15 km van die teerpad af, bereik jy Venterskroon. Die ou myndorpie lyk nog goed en verskeie nuwe fasiliteite (insluitend ‘n koffiewinkel en ‘n inligtingsentrum) wag op die besoeker.
As jy daar klaar is, gaan die pad verder deur Venterskroon en deur ‘n smal pas. Aan die anderkant is die plaas Leeufontein, een van die oudstes in die Transvaal.
Dan kom jy by ‘n kruispad. Draai links. ‘n Entjie verder sal jy die T-aansluiting met die Schoemansdrift-Potch pad kry. Draai links in die rigting van Schoemansdrift.
Oral langs die pad lê plase in die heuwellandskap soos jy deur die Koepel ry tot by die Vaalrivier.
Na ‘n paar kilometers is daar ‘n aansluiting met die Skandinawiërpad. Hou links in die rigting van Schoemansdrift.
Schoemansdrift is ‘n lang, enkelbaan laagwaterbrug oor die Vaalrivier. Die omgewing is pragtig en die brug is ‘n gunstelingplek van die plaaslike hengelaars.
Aan die ander kant van die Vaal is ‘n T-aansluiting. Draai links en ry al langs die kronkelende suidelike oewer van die rivier.
Daar is ‘n nogal verwarrende netwerk van grondpaadjies deur hierdie gedeelte van die Vredefort Koepel, so maak seker jy kry ‘n kaart by een van die inligingsentrums voordat jy vertrek. Dis egter nie so ‘n probleem as jy verdwaal nie, want al die paaie lei uiteindelik na die teerpaaie wat Vredefort en Parys verbind (R59).
As jy die R59 bereik, moet jy links draai om na Vredefort toe te gaan, of regs draai om terug na Parys te gaan. Die heen-en-weer rit behoort nie meer as 100km te wees nie, maar jy wil nie jaag nie, so vertrek vroeg.

Die Ander Manier om die Vredefort Koepel Berglandskap te Bereik is vanaf Potchefstroom

Om hierdie besige dorpie te bereik, moet jy die N1 suid vanaf Bloemfontein neem. Na 20km vurk die pad in die N1 en N12 na Potch en Kimberley. Neem die N12 en ry ongeveer 100km al langs die prominente rif van heuwels. Op pad sal jy by die Mponeng Myn verbyry, die diepste in die wêreld. Sodra jy Potch bereik, moet jy die aanwysings vir die R53 na Parys volg. Dit sal jou na die Vredefort Koepel Berglandskap neem vanuit die noorde.
As ‘n laaste punt, kan die paaie wat jou terugneem Johannesburg toe nogal verwarrend wees. Sodra jy die metropool bereik, sal jy ‘n aanwysing vir die N1 sien. Dit sal jou met die sementhoofpad neem (eintlik die Westelike verbypad) deur Roodepoort tot in Pretoria. Indien jy op die M1 wil kom wat deur die Noordelike voorstede na Sandton loop, volg die aanwysings vir die N12 na Witbank en neem dan die afrit gemerk ‘M1 Noord’. Verbeterde aanwysings sou hierdie ingewikkelde klein maneuver, wat my elke keer uitvang, kon verhoed.

Translated by Ananda Schoeman