Pinotage

© Kevin Crause

Naam

Pinotage

Beskrywing

Pinotage is ’n rooi druif variëteit wat in Suid Afrika ontstaan het. Dit groei ook in Australië, Brasilië, Kanada, Israel, New Zealand, Switserland, Amerika en Zimbabwe, alhoewel op ’n baie kleiner skaal.

Oorsprong

Professor Abraham Izak Perold van Stellenbosch Universiteit het Pinotage gedurende die 1920’s met ’n kruisbestuiwing van Pinot noir met Cinsaut (voorheen bekend as Hermitage) ontwikkel. Perold wou ’n druif ontwikkel met die klassieke rooiwyn smaak en die maklike groei eienskappe van Cinsaut.

Hierdie kruising het vier sade tot stand gebring wat Perold in sy offisiële tuiste se tuin by Stellenbosch Universiteit se Welgevallen Eksperimentele plaas geplant het. Perold het twee jaar later ’n pos by die KWV aanvaar en die Welgevallen tuiste was vir ’n tyd onbewoon.

Dr. Charlie Niehaus, wat toe nog ’n jong lektor was, het die saailinge van ’n groep wat gestuur is om die oorgroeide tuin op te ruim gered. Niehaus het die saailinge vir Professor CJ Theron, wat die Departementshoof van Wingerdbou en Wynbou by Stellenbosch Universiteit in die 1940’s en 1950’s was, gegee.

Hierdie wingerdstokke is herplant by die Elsenburg Landbou Kollege en later op Richter 57 en Richter 99 onderstokke geënt, wat ook ’n geluk is want die meeste ouer onderstokke was so besmet met ’n virus dat dit uitgeroei is. Die beste ent is gekies om die begin van die Pinotage wyne te wees.

Ander Name

Oorspronklik is daar verwys na die kruising as Perold’ Hermitage x Pinot en die naam Herminoire is ernstig oorweeg. Op die ou end is daar ooreengekom op die naam Pinotage toe Theron die vier geënte wingerdstokke aan Perold gewys het.

Produksie in Suid-Afrika

Die eerste kommersiële wingerdstokke is of by Myrtle Cove naby Sir Lowry’s Pass of Muratie in Stellenbosch geplant. Hierdie variëteit het tyd geneem om wortel te skiet in die industrie, met slegs drie boere wat dit in die 1950’s produseer het.

Die kultivar het populêr geword nadat dit die prys vir die beste wyn by die Cape Young Wine Show in 1959 en 1961 gewen het. Stellenbosch Farmer’s Winery was in 1961 die eerste om die naam Pinotage op ’n etiket te gebruik om sodoende die 1959 kampioen ‘Pinotage of Bellevue Estate’ onder die Lanzerac handelsnaam te bemark.

Produksie Streke

Noord Kaap, Olifantsrivier, Swartland, Klein Karoo, Paarl, Robertson, Stellenbosch, Worcester, Breedekloof en Kaapse suidkus.

Groei

Die variëteit het ’n gemiddelde tot goeie groeikrag met ’n opbrengs potensiaal van 10 tot 15 ton per hektaar.

Oestyd

Dit word vroeg in die seisoen ryp, vanaf die tweede helfte van Februarie.

Druiwekorrels

Die kleinerige korrels is ovaal en ’n donker blouswart as dit ryp is. Die dop is dik en taai en die vleis is sag en sappig.

Blare

Die blare is medium tot relatief groot, donkergroen, langwerpig en vyflobbig.

Siektes en Plae

Die variëteit is nie baie vatbaar vir donsskimmel nie, maar is meer sensitief vir botritis as Cabernet Sauvignon. Baie probleme word vrygespring omdat Pinotage vroeg in die seisoen ryp is.

Gebruik

Pinotage word gebruik as ’n enkel variëteitswyn en word ook met ander wyne versny. Een voorbeeld van so ’n versnitte wyn is die Cape Blend wat onderskei word as ’n definitiewe Suid Afrikaanse rooiwyn versnit wat ten minste 30% en nie meer as 70% Pinotage bevat nie.

Smaak

Dit kan gebruik word om ’n wye verskeidenheid wyne voort te bring, afhangende van die manier waarop dit verbou is en die ouderdom. Pinotage wat op Richter 110 onderstokke aan die westelike hange groei het ’n piesanggeur terwyl die aan die oostelike hange ’n swart kersie geur vermeng met ’n sweempie leer en teer het. Die gebruik van eikehout kan Pinotage ’n sjokolade of koffie geur gee.Translated by Ananda Schoeman