Pinot Noir

© Glenneis Kriel

Beskrywing

Pinot noir is ‘n swart wyndruif variëteit wat geassosieer word met van die wêreld se duurste stil- en vonkelwyne. Die naam, afgelei van die Franse woorde wat “den” en “swart” beteken, verwys na die kompakte, koniese vorm van die druiwetrosse, soos ‘n dennekeël, en die donker kleur van die korrels.

Pinot noir is waarskynlik een van die oudste klone van die Pinot familie. Daar word geskat dat ongeveer 20 mutasies van Pinot noir bestaan, waarvan Pinot gris en Pinot blanc ook in Suid-Afrika verbou word, hoewel op klein skaal.

Herkoms

Pinot noir is in Boergondië, Frankryk verbou sedert die eerste eeu. Baie van Pinot noir se roem kan toegeskryf word aan die Cisterciënsiese monnikke in Frankryk wat gedurende die Middeleeue oral wingerde geplant waar hulle kloosters gebou het.

Oor honderde oesjare het die monnikke gedetailleerde produksierekords gehou en ook aangeteken waar die wingerdstokke floreer het. Die monnikke het in der waarheid die wêreld se eerste oesverslae geskep en die idee gevestig dat ‘n variëteit die mikro- en makrotoestande van die omgewing (die ‘terroir”) reflekteer waarin dit geplant is.

Die wingerde wat aan die kerk behoort het is onder families in Boergondië verdeel gedurende die Franse rewolusie rondom 1789. Hoewel dit ‘n uitdagende variëteit is om te verbou, het produksie oor die jare versprei na verskeie ander lande soos meer wynmakers probeer om dieselfde kwaliteit wyn te produseer as dié geassosieer met Boergondiese wyne.

Pinot noir het beweeg van die dertigste tot die sewende mees geplante variëteit tussen 1990 en 2010.

Ander Name

Die variëteit word ook genoem Spät burgunder in Duitsland, Brazilië en Kanada; Pinot Nero of Blauburgunder in Griekeland, Hongarye en Italië; of Burgundac in die VSA en Joego-Slawië.

Verbouing in Suid-Afrika

Professor Abraham Izak Perold het die Switserse BK5 Pinot noir kloon in ongeveer 1920 na Suid-Afrika ingevoer en Muratie in Stellenbosch het die eerste plaas geword om die variëteit in 1927 aan te plant. Die variëteit het gesukkel om verder te versprei as die Stellenbosch area weens die sterk fokus op die produksie van wynvolumes in plaas van wynkwaliteit. Die kwota-stelsel wat in die laat 1950’s ingestel is, het ook die verspreiding verder gekniehalter.

In die mid 1970’s het Tim Hamilton Russel van Hamilton Russel Wines in die Hemel-en-Aarde Vallei ‘n reuse rol gespeel in die ontsluiting van die ware potensiaal van Pinot Noir in hierdie land toe hy besluit het om die variëteit te plant ten spyte van die kwota-stelsel, asook die feit dat die beskikbare klone gemik was op die produksie van vonkel- en nie tafelwyn nie.

Saam met sy wynmaker, Peter Finlayson, het Russel bewys dat die Hemel-en-Aarde Vallei ideaal is vir Pinot noir produksie. In ongeveer 1990 het nuwe Dijon klone, beter geskik vir die produksie van fyn tafelwyne, beskikbaar geraak in Suid-Afrika.

Saam met die skuif na die produksie van kwaliteitwyne, het hierdie nuwe klone daartoe gelei dat baie nuwe streke soos Elgin, Doringbaai en Franschoek ook begin het om dit te verbou. Professor Perold het Pinot noir gekruis met Cinsaut om die ware Suid-Afrikaanse variëteit, Pinotage, te produseer.

Produksiestreke

Die area onder Pinot noir in Suid-Afrika het gegroei van 0,8% van die totale area onder wyndruiwe tot 1,2% in 2016. Die variëteit word geplant in al die produksiestreke, maar die grootste area onder Pinot noir is die Kaapse suidkus, gevolg deur Stellenbosch, Robertson en die Paarl. Die variëteit floreer in koeler areas waar die grond baie kalk bevat.

Groei

Pinot noir het gemiddelde tot lae lewenskragtigheid. Die produksiepotensiaal wissel tussen 8t/ha tot 14t/ha, maar opbrengs moet laag gehou word om die kwaliteit van die wyn te verhoog.

Rypwording

Die druiwe word ryp in die vroeë midseisoen, van die eerste helfte van Februarie af.

Korrels

Korrels is klein, effens ovaal met kleure wat wissel van violet-blou tot pers en swart. Die doppe is dun, maar taai en die binnekant is sag, soet en sappig.

Blare

Blare is medium tot groot, rond en totaal of amper drie-lobbig.

Peste en Plae

Die variëteit is geneig tot sonbrand, virusse, fungusse en vrot. Omdat dit vroeg ryp word is dit kwesbaar vir beskadiging deur voëls.

Gebruike

In Suid-Afrika word Pinot noir hoofsaaklik gebruik om vonkelwyn en premium kwaliteit enkelvariëteit stil wyne te produseer. Dit mag ook versny word met verskeie ander variëteite, waarvan Chardonnay en Pinot Meunier gewilde keuses is.

Smaak

Die oorheersende smaak van Pinot noir word beïnvloed deur verskeie veranderlikes, insluitend die produksie area, die mikro- en makro klimaatstoestande, die wyse waarop die wingerde bestuur is en die wynmaakproses. Jong wyne mag smaak na rooi vrugte soos framboos, pruim, bosbessie en kersie, en, soos die wyne verouder, kry hulle dikwels aardse geure met tikkies truffel, wilde sampioene, gedroogde vleis en eksotiese speserye by.Translated by Elna Van Rhyn