Petite Sirah - Durif

Naam

Petite Sirah ook genoem Durif

Beskrywing

’n Kragtige rooi druif wat vol-swaar rooi wyne produseer en in die 1880’s deur Dr Francois Durif van ’n SyrahxPeloursin kruising ontwikkel is. Petite Sirah is gewild in Kalifornië, maar word ook in Argentinië, Meksiko, Brasilië en Australië geproduseer.

Daar word beweer dat die enigste klein of te wel ‘petite’ kenmerk van Durif die korrels is. Dit bring ’n intense kleurvolle tannien rooiwyn voort.

Oorsprong

Rynvallei in Frankryk

Ander Name

Petite Sirah word ook Durif (vernoem na die Franse kweker) genoem en hierdie naam word deur die Suid Afrikaanse Wynbedryf-Inligting en -Stelsels (Sawis) gebruik. Petite Sirah moet nie verwar word met Petite Syrah, ’n kloon met klein korrels van die Syrah variëteit, nie.

Daar is meer as 35 ander name vir Durif wat internasionaal gebruik word onder andere Dure, Duret, Plant Durif en Pinot de Romas (Frankryk). DNA analise in 1997 het gewys dat Durif nie verwant is aan Kalifornië se Petite Sirah nie.

Produksie in Suid-Afrika

Vititec het Durif eerste in 2001 in Suid-Afrika aangeplant en daar is ongeveer 114 hektaar onder produksie.

Produksie Streke

Die eerste kommersiële aanplanting was in 2004 op die plaas Fairview in die Paarl. Die meeste van die 114 hektaar Durif kom in die Breedekloof (34ha) en Paarl (31ha) voor. In 2016 is 24 hektaar nuwe wingerdstokke aangeplant.

Groei

Petite Sirah is ’n sterk groeier en kan in verskillende grondsoorte gedy. Die opbrengs potensiaal is 22 – 24 ton per hektaar. Die variëteit is geneig om te kruip en moet opgelei word om te voorkom dat die trosse op die grond hang.

Oestyd

Die druiwe word mid-seisoen geoes.

Druiwekorrels

Petite Sirah het klein blouswart korrels wat in digte trosse hang.

Blare

Petite Sirah se blare is mediumgroot, vyfhoekig en drielobbig.

Siektes en Plae

Klone met baie digte trosse is geneig tot tros-vrot. Die druiwekorrels is sensitief vir die son. Petite Sirah is bestand teen witroes wat dit gewild gemaak het in Frankryk in die 18de eeu, alhoewel dit tans skaars is in hierdie land.

Gebruik

Durif word as ’n vol-swaar enkel rooi variëteitswyn of versnitwyn gebruik. In versnitwyne dra dit by tot ’n tannien geur en kleur kompleksiteit.

Smaak

Hierdie vol-swaar wyn het ’n tannien smaak en is vrugtig en donker. Petite Sirah is in Kalifornië bekend vir die ryk geparfumeerde wyne met ’n swartpeper ondertoon. Die wyn is hoog in tannien en kan maklik verouder word, van 10 – 20 jaar lank.Translated by Ananda Schoeman