Die Oos-Kaap Provinsie se nuwe wapen is op 25 Maart 1996 bekend gestel. Die wapen begin met ’n groen basis en die Engelse leuse, Development through Unity, wat “Ontwikkeling deur Eenheid” beteken. Die hoofelement is die Kaapse aalwyn wat volharding en krag simboliseer.
Dit het drie blomme wat uit ’n enkele stingel spruit en dit dui die eenheid onder die verskillende bevolkingsgroepe in die provinsie aan. Aan weerskante van die aalwyn is rooi flanke wat die grond simboliseer. Die blou golwe onder die aalwyn verteenwoordig die Oos-Kaap se kuslyn.
Die helmteken bo-op die skild is die son en dit simboliseer die aangename ligging en temperatuur in die Oos-Kaap. Dit dui op die positiewe houding en vriendelikheid van die bevolking, asook die aanbreek van ’n nuwe era en blink toekoms van groei, ontwikkeling en voorspoed.
Onder die son is ’n luiperdvel-kopring wat die simbool van aansien, mag en erfenis van die provinsie is. Luiperds word as kragtig gesien en regdeur Suid-Afrika as ’n simbool van outoriteit gebruik.
Die skildhouers is twee elande, die grootste boksoort en wydverspreid in die Oos-Kaap. Soos in Boesmantekeninge gesien was die eland vereer en ’n belangrike deel van hulle kultuur. Die elandbul verteenwoordig ook grootsheid.
Die Kaapse aalwyn is ’n vetplant wat inheems is aan Suider-Afrika. Dit is ook as gevolg van die bitter sap as ’n bitteraalwyn bekend. Dit word al vir meer as 200 jaar as ’n medisinale plant gebruik. Die sap is ’n natuurlike kolon reiniger.
Die bitter sap word uit die gesnyde blare gedreineer en as ’n effektiewe lakseermiddel gebruik. Soos die meeste medisinale plante het die Kaapse aalwyn ander voordelige eienskappe.
Wetenskaplike studies toon dat aalwyn-gel inflammasie verminder en wondgenesing bespoedig. Dit het ook antivirale, antibakteriese en antifungale eienskappe.
Die eland is ’n blaarvreter wat ’n wye verskeidenheid plantspesies eet. Die eland se voorkeur habitat is semi-droë gebiede tot grasvelde en woude. Dit kan vir lang tye sonder water oorleef. Die nodige water word uit vrugte, veral gemsbok komkommers en bitterwaatlemoene, verkry.
Die eland eet ook hoofsaaklik snags en kry dus vog uit die waterdruppels wat op die plante vorm as die temperatuur daal. Elande is tropdiere en beskerm hul kleintjies teen roofdiere deur ’n “kleuterskool” vir hul kalwers te vorm. Indien hulle deur roofdiere bedreig word vorm die trop ’n versperring met die groter bulle aan die buitekant en die kalwers en koeie aan die binnekant.
Die groot bulle is nie territoriaal nie en hulle wei ver en wyd om kos te kry, maar hulle word wel besitlik en veg oor ’n bronstige koei. Dratyd is omtrent nege maande en die kalwers kan binne ure na geboorte saam met die trop rondhardloop.
Translated by Ananda Schoeman